Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Netbalstryde nie op papier gewen nie’

Kovsies se netbalspan weet hy het ’n teiken op sy rug wanneer vanjaar se Varsity-reeks Maandag begin, sê dié span se afrigter, Burta de Kock.

Lefébre Rademan, wat die Kovsies vanjaar aanvoer, tydens 2018 se eindstryd van die Varsity-reeks teen Tuks in Bloemfontein. Foto: Varsity Sports

Die Bloemfonteiners kom in hul eerste wedstryd in ’n herhaling van 2018 se eindstryd teen Tuks in die Rosestad te staan. Daardie dag het Kovsies met 63-59 gewen om die gesogte titel ’n derde keer te wen.

“Ek dink almal is honger en hulle gaan hard kom vir ons. Maar ons is so voorbereid en so positief as wat kan kom vir die reeks – wat ek as een van die beste platforms beskou om netbal in die land te bevorder.

“Dit sal goed wees as ons ’n goeie begin kan hê, maar dit gaan nie oor die wen nie. Die reeks word tog nie in die eerste wedstryd gewen nie,” sê De Kock.

Die Pretorianers het die Kovsies vroeër vanjaar in die Ussa-toernooi met 41-37 in die uitspeelwedstryd om die derde plek geklop. Maar daar is ook ander spanne wat vanjaar breed in Kovsies se pad staan om hul titel te verdedig.

“As jy op papier kyk, is Tuks waarskynlik die sterkste span, maar ’n wedstryd word nie op papier gewen nie en enigiets kan gebeur.

“Tog sal Maties ook honger wees en die Pukke het die Ussa-toernooi gewen, maar hierdie is ’n nuwe kompetisie,” sê De Kock.

As jy op papier kyk, is Tuks waarskynlik die sterkste span, maar ’n wedstryd word nie op papier gewen nie en enigiets kan gebeur.
Burta de Kock

Kovsies het heelwat nuwe gesigte met spelers soos Alicia Puren, wat die span in 2018 aangevoer het, wat sedertdien haar studies voltooi het. Dan het die verdediger Ané Retief onlangs haar vinger gebreek en gaan sy waarskynlik nie teen Tuks kan speel nie.

Tog het die hulpdoel Lefébre Rademan, wat vanjaar die kapteinskap oorgeneem het, gewys sy floreer met die ekstra verantwoordelikheid.

“Dit is ’n lekker uitdaging vir die kleintjies (nuwelinge in die groep). Dit gaan nie oor Tuks of Maties nie, want elke wedstryd is moeilik.

“Die spelers moet nie op die name fokus nie, maar om hul beste te lewer. Ons fokus is daarop om ’n spanpoging te lewer,” sê De Kock.

* Maandag se wedstryd begin om 19:00 en word regstreeks op SS 10 uitgesaai.

* Kovsies se groep: Lefébre Rademan (k), Rieze Straeuli, Meagan Roux, Rolene Streutker, Zandré Smit, Gertriana Retief, Khanyisa Chawane, Sikholiwe Mdletshe, Bianca de Wee, Oageng Khasake, Linten Matthews, Abeedha Masimla, Ané Retief, Chanel Vrey, Ancia Pienaar, Jana Scholtz.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.