Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Uit die stof tot in die Tour de France

Wanneer Nicholas Dlamini en sy maats smiddae ná skool die stofstrate van Capricorn Park by Muizenberg huis toe gevat het, het hulle dinge gesien en gehoor wat die meeste van ons die bewerasies sou gee van suiwer angs.

Nicholas Dlamini ’n paar jaar gelede voor die huis in Capricorn Park waar hy grootgeword het. Sy ma, Gloria, woon nie meer daar nie, maar besit steeds die huis. Foto: Gallo Images/The Times

Geweerskote sou enige tyd van die dag in die strate weerklink. Hulle kon op enige straathoek getuies wees van ’n vuisgeveg, en soms selfs ’n messtekery.

“Dit was vir ons normaal,” sê die 25-jarige fietsryer Vrydag. “Steeds, as ek iemand ’n mes sien uithaal of ’n ander ou met ’n baksteen sien slaan, skok dit my nie want ek het dit as kind genoeg gesien. En wanneer jy in daardie situasie is, pas jy mos aan. Dis eers wanneer jy ’n ruk weg is daarvan dat jy besef dis nie hoe dit moet wees nie.”

Soos vele ander townships gaan Capricorn Park gebuk onder geweld, dwelmmisbruik en armoede, en verg dit bloedsweet om te ontsnap. Dlamini noem dié lap aarde nou al vir baie jare nie meer sy huis nie, nadat hy op twee wiele en groot ideale sy pad daaruit kon vind.

Op daardie pad kon hy nie net die dramas van sy grootwordplek agterlaat nie, maar ook die blink liggies van gróót sukses tegemoet ry. Eerskomende Saterdag sal hy in die uniform van Qhubeka Assos die eerste swart Suid-Afrikaner ooit word wat aan die Tour de France deelneem – en van daar af sal hy reguit Tokio toe gaan om sy Olimpiese buiging te gaan maak.

Dis geen wonder die skollies van Capricorn Park los hom uit as hy deesdae teruggaan soontoe nie. Hy het hard gewerk om hul respek af te dwing.

“My ma bly nie meer daar nie, sy is nou in Muizenberg, maar sy het steeds ’n huis waaroor ’n mens so nou en dan ’n oog moet gooi,” sê Dlamini. “As ek soontoe gaan om dit te doen, kry ek darem ook ’n kans om die mense saam met wie ek grootgeword het weer te sien, wat altyd baie lekker is, maar ek is tog skrikkerig om langer as 15, 20 minute te bly. Die laaste ding wat ek wil hê, is om in die middel van ’n skietery te beland.

“Wat ek wel moet sê, is dat daar nie skoorgesoek word met jou as jy van Capricorn Park is en hard gewerk het om vir jou ’n ander lewe te bou nie. Selfs toe ek ’n kind was, het hulle my uitgelos om my fiets te ry. Partykeer sou ek vyfuur opstaan en halfses op my fiets wees. Dan’s dit nog donker en jy sien hoe dwaal die ouens buite rond, maar hulle doen niks – hulle waai selfs.”

Dlamini en sy ma Gloria.

Dlamini se liefde vir fietsry spruit uit sy nuuskierigheid oor die lewe buite Capricorn Park. Een van sy vriende sou soms gaan fietsry en dan terugkom met die wonderlikste stories van alles wat hy gesien het. Een van Dlamini se eerste drome was om ook so te maak.

“As jy in ’n township bly, is dit asof jy in ’n boks is. Al wanneer jy die buitewêreld sien, is as jy so een keer ’n maand dorp toe gaan. Ons was nie bevoorreg genoeg om ’n kar te hê nie, so ons kon nie rondry net om ander plekke te sien nie,” sê hy.

“Toe ek begin fietsry, kon ek vir die eerste keer sien hoe lyk ’n plek soos Simonstad, wat nie eens ver van ons was nie. Ek kon ry en uiteindelik sien hoe lyk Chapman’s Peak . En bobbejane! Ek onthou nog hoe opgewonde ek was toe ek dit die eerste keer sien,” glimlag hy.

Dat Dlamini daardie dinge kon sien en beleef, was te danke aan ’n Kaapse inisiatief genaamd BEN (Bicycling Empowerment Network), wat onder meer in Capricorn Park bedrywig was.

“Jy kon by die BEN-klub aansluit vir R100, dan het hulle jou ’n fiets en fietsryklere gegee,” sê hy. “Ek was altyd sportief. Toe ek baie jonk was het ek atletiek en landloop gedoen, maar toe ek die eerste keer die stories hoor van die kinders wat fietsgery het, het ek geweet ek moet ook dit doen.

“Toe ek eers ’n fiets gehad het, het ek baie begin oefen. Skoolvakansies sou ek soms twee keer ’n dag met die fiets uitry. Só het ek al hoe beter geraak, en natuurlik gaan dit ook beter elke keer wat jy ’n nuwe, ligter fiets kry.

“Ek het op 14 aangesluit by die Velokhaya-akademie (in Khayelitsha) en mededingend begin fietsry.”

Dlamini het sodanig op die podiums geboer dat hy by die UCI-sentrum in Potchefstroom begin jaag het, en in 2016 deur die beroepspan MTN Qhubeka opgepik is.

“Ons het in Italië gaan woon en dit was die ongelooflikste platform vir my. Daar het ek teen die beste o.23’s in die wêreld gery, en in 2018 ’n beroepsryer geword.”

Dlamini het snelle opgang gemaak – tot die noodlot laat in 2019 toegeslaan het.

’n Skermgreep van die voorval in Desember 2019 toe Dlamini se arm in die Tafelberg-natuurreservaat gebreek is. Foto: Twitter

Dlamini was terug in die Kaap en het twee dae ná Kersfees in die Tafelberg-natuurreservaat gaan oefen toe hy deur bewaarders voorgekeer is en gevra is vir ’n permit.

Hy het nie een gehad nie, maar dit verskoon nietemin nie die bewaarders vir wat volgende gebeur het nie. Dlamini is van sy fiets geruk en in die agterkant van hul bakkie geboender. In die proses is sy linkerarm gebreek en kon hy vir drie maande nie fietsry nie.

“Die meeste atlete is geneig om te veel te dink wanneer hulle ’n besering opdoen, en ek het ook. Dit het my ’n ruk gevat om te herstel, maar ek het sterker teruggekom en met die pandemie darem tyd gehad om te werk vir die groot dinge wat nou oor my pad gekom het,” sê hy.

“Dit het my natuurlik ’n guns gedoen dat die Olimpiese Spele met ’n jaar uitgestel is, want andersins sou een van my drome daarmee heen gewees het – of minstens met vier jaar uitgestel.”

Danksy die uitstelling sal Dlamini nou binne ’n maand sy buiging maak in die twee grootste gebeurtenisse wat oor ’n fietsryer se pad kan kom. Watter een beteken vir hom meer?

“Ek hou nie daarvan om die twee teen mekaar op te weeg nie, maar ek moet sê die Tour span die kroon,” antwoord hy. “Dis die grootste fietsry-kompetisie in die wêreld, en almal weet daarvan. As jy iemand nuut ontmoet in ’n koffiewinkel, of langs iemand in ’n vliegtuig sit en sê jy’s ’n fietsryer, is hul eerste vraag altyd of jy al in die Tour de France gery het.

“Ek dink dit gaan verskriklik baie vir my beteken om daaraan deel te neem en my beste te doen, en vir die land ook.”

Dlamini op sy fiets. Foto: Getty Images

Doug Ryder, die spanbestuurder van Qhubeka Assos, is ewe opgewonde om te sien wat Dlamini in Frankryk kan gaan doen.

“Ons het die span destyds op die been gebring presies sodat daar stories soos Nicholas s’n kan wees. Dis hoekom Qhubeka steeds fietse skenk vir jong kinders om te leer fietsry. Nicholas het begin op ’n BEN-fiets en kyk waar is hy nou. Dink jou in hoe spesiaal dit vir hom gaan wees om op Mandeladag op die Champs-Élysées te ry aan die einde van ’n Tour de France, ná alles wat hy te bowe moes kom. Dis ’n sprokie!

“Die mense van ons land kan nou in Nic iemand sien wat sy droom uitleef. Dis ’n bron van ware hoop. En hy verdien dit deur en deur: Hy was nog altyd ’n vegter en ontsettend gedrewe. Toe hy in Potchefstroom by die UCI-sentrum was, het ons gesê sy belangrikste doelwit moet wees om matriek te kry, voordat hy kon dink aan ’n loopbaan. Die vasberadenheid wat hy daarna getoon het om matriek te voltooi, was regtig wonderlik om te sien, en som sy begeerte om suksesvol te wees baie goed op.”

Dat Dlamini die sukkeljare in Capricorn Park kon agterlaat, is ’n bron van trots vir almal wat hom ken, sê hy. En vir hom is dit spesiaal dat hy sy ma saam met hom daar kon uittrek.

“My ma was ’n enkelouer en die enigste broodwinner, maar sy het alles in haar vermoë gedoen om kos op die tafel te sit. Sy het nie veel verdien nie, maar tog het ons altyd genoeg gehad,” sê hy. “Selfs die paar keer wat ons sonder kos gaan slaap het, het ons geweet dis nie omdat sy nie probeer het nie.

“Ek dink die moeite wat ek haar sien doen het, het my ook besonder hard laat werk, want ek wil seker wees sy het ’n goeie lewe wanneer sy die dag aftree.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Nicholas Dlamini  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.