Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nick en Gerda besluit eers later oor Spele

Wanneer Gerda Steyn vroeg in Desember na Suid-Afrika terugkeer, sal hulle oor die toekoms besluit – die marathon by die Olimpiese Spele of die verdediging van haar Twee Oseane- en Comrades-titels.

Só sê die voormalige Comrades-kampioen Nick Bester, afrigter van Gerda Steyn wat in die naweek in die New York-marathon ’n puik tyd van 2:27:48 aangeteken het.

Dit is byna vier minute vinniger as haar vorige beste tyd, wat sy ook verlede jaar in New York gehardloop het.

Gerda Steyn toe sy vroeër vanjaar die afdeling vir vroue in die Comrades gewen het. Foto: Ian Carbutt

Met dié 2:27 het sy ook vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio, Japan, gekwalifiseer.

Die Keniaan Joyciline Jepkosgei het gewen in 2:22:38.

“Gerda sal eers vroeg in Desember terug wees in die land. Ons sal nie oorhaastig besluit nie. Ons sal eers deeglik besin,” sê Bester.

Steyn, wat lang tye in Frankryk woon wanneer sy nie in Suid-Afrika is nie, het verlede week gesê sy sal eers ná die New York-marathon besluit.

Sy het vanjaar ’n droomjaar beleef en in die Twee Oseane én die Comrades ook uitmuntend presteer.

Wat vir my goed is, is dat sy een van die drie vinnigste vroue oor die laaste 5 myl (8 km) was.
Nick Bester

Bester sê hy sal graag wil hê dat Steyn vroeg in die nuwe jaar aan ’n vinnige marathon deelneem.

Hy sê hy glo sy kan op ’n vinniger roete as dié van New York met sy bulte, omtrent drie minute vinniger hardloop.”

Die oud-Springbok Colleen de Reuck, wat vir Suid-Afrika én die VSA aan die Olimpiese marathon deelgeneem het, se SA rekord is 2:26:35.

Meyer (2:27:17), Frith van der Merwe (2:27:15) René Kalmer (2:29:27) en Steyn is die enigste ander SA vroue wat al onder 2:30 gehardloop het.

Bester sê hy is baie tevrede met sy atleet se vertoning.

“Gerda sê sy het baie lekker gehardloop en was nie in enige stadium in die moeilikheid nie.

“Wat vir my goed is, is dat sy een van die drie vinnigste vroue oor die laaste 5 myl (8 km) was,” sê Bester.

Lindsay Parry, die amptelike Comrades-afrigter, sê as hy Steyn was en tussen die Olimpiese Spele, die Comrades en Twee Oseane kon kies, sou hy die Spele gekies het.

Gerda het ’n volwasse professionele wedloop gehardloop. Sy gee my weer hoop vir Suid-Afrikaanse vroue-padatlete.
Pieter Labuschagne

Hy glo sy kan wel die Twee Oseane en die Olimpiese marathon in dieselfde jaar doen.

“Dis haar keuse om te oefen en deel te neem aan die wedlope wat haar gelukkig maak.”

Parry meen Steyn kan vinniger as 2:25 hardloop.

Pieter Labuschagne, oudafrigter van onder andere Zola Budd en Elana Meyer, sê hy is beïndruk met Steyn se vertoning.

“Gerda se 2:27 is werklik uitstekend,” sê Labuschagne, ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap.

“Met nog voorbereiding kan sy ’n sub-2:25 hardloop by volgende jaar se Spele. Dan praat ons van ’n topvyf-, topses-posisie, of selfs beter,” meen hy.

“Gerda het ’n volwasse professionele wedloop gehardloop. Sy gee my weer hoop vir Suid-Afrikaanse vroue-padatlete,” sê Labuschagne.

“Die Olimpiese marathon in Japan sal stadig wees en atlete wat aan die hitte gewoond is, sal ’n voordeel hê,” meen Labuschagne.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Marathon  |  Nick Bester  |  Tokio-Spele  |  Gerda Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.