Die Suid-Afrikaanse mans- en vrouehokkespanne sal die verdediging van hul Afrika-titels albei teen Nigerië – op die eerste dag van die Afrikabeker-toernooi volgende maand in Stellenbosch – begin.

Dirkie Chamberlain in aksie in die onlangse FIH-eindtoernooi in Valencia, Spanje. Foto: FHCV
Die bepalings van die Afrikabeker-toernooi van 12 tot 18 Augustus in Stellenbosch is vandeesweek bekend gemaak.
Plek in Suid-Afrika se span vir die Olimpiese Spele volgende jaar in Tokio, Japan, (onderhewig aan Saskok se goedkeuring) is op die spel.
Agt manspanne is in aksie, terwyl daar net ses vrouespanne gaan deelneem.
Die nasionale vroue is saam met Nigerië en Kenia in ’n groep.
Benewens Nigerië is Kenia en Uganda die ander spanne in die mans se groep. Die Protea-mans se gedugste teenstander en finalis in die vorige toernooi, Egipte, is saam met Zimbabwe, Namibië en Ghana in ’n groep.
Die SA manspan is reeds aangekondig en het ’n klompie staatmakers terug in die geledere, wat nie in die FIH-eindtoernooi in Indië betrokke was nie.
Die plaaslike Premierhokkieliga wat Donderdag begin het en oor die volgende drie weke beslis word, sal die spelers wat betrokke is bykomende slypkans bied.