Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Niki Lauda: F1-reus, lugvaart-leier
Niki Lauda verlede jaar by die Franse Grand Prix. Hy was tot sy dood nou betrokke by Formule Een. Foto: Getty Images

Die driemalige Formule Een-wêreldkampioen Niki Lauda, wat as een van die beste renjaers van alle tye beskou word en ook groot sukses as ’n lugvaart-entrepreneur behaal het, het die laaste rondte van sy lewenswedren voltooi.

Dié Oostenryker is Maandag in die ouderdom van 70 dood nadat hy lank gesondheidsprobleme gehad het.

Lauda het verlede jaar ’n longoorplanting ondergaan en het in Januarie tien dae in die hospitaal deurgebring weens erge griep.

Niki Lauda (links) en die Suid-Afrikaanse renjaer Jody Scheckter in 1973 by Brands Hatch in Engeland. Foto: Getty Images

“Sy unieke prestasies as ’n sportman en entrepreneur sal nooit vergeet word nie,” het sy familie in ’n verklaring gesê.

Lauda het sy eerste F1-wêreldtitel in 1975 in ’n Ferrari gewen. Hy het weer so in 1977 gemaak en sy derde titel, in ’n McLaren, in 1984 verower.

Die wrak van Niki Lauda se Ferrari ná sy ongeluk by die Nürburgring. Foto: Getty Images
Niki Lauda in die hospitaal nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het in 1976. Foto: Getty Images

Sy lewe het onherroeplik verander toe hy in 1976 in ’n amper noodlottige ongeluk by die Nürburgring in Duitsland betrokke was. Hy het ernstige brandwonde aan sy gesig en lyf opgedoen, maar het teruggeveg en met ’n spesiale valhelm teruggekeer na die baan en sy tweede wêreldkroon die volgende jaar beklink.

Sy wedywering met die Britse renjaer James Hunt, die 1976-wêreldkampioen, was intens en is uitgebeeld in die 2013-fliek Rush.

Ná twee relatief onsuksesvolle jare by Brabham (1978 en 1979), gevolg deur ’n sabbatsverlof van twee jaar, het Lauda in 1982 by McLaren aangesluit. In 1984 het hy die wêreldtitel met ’n halfpunt voor sy spanmaat Alain Prost weggeraap.

Tydens Lauda se sabbatsverlof aan die begin van die 1980’s het hy hom in die lugvaartbedryf begewe en met ’n huurvlugdiens begin.

Ná sy uittrede het hy Lauda Air uitgebou tot ’n internasionale lugredery, wat wêreldwye bestemmings aangedoen het. Sy lugdiens het in 2012 met Austrian Airlines saamgesmelt.

Een van die vliegtuie in die Air Lauda-vloot voordat dit in 2012 met Austrian Airlines saamgesmelt het. Foto: Getty Images

Lauda het in die negentigerjare in ’n bestuurshoedanigheid na Formule Een teruggekeer – eers by Ferrari en toe later by Mercedes, waar hy in 2012 as ’n nie-uitvoerende voorsitter aangewys is.

Lauda het ’n deurslaggewende rol gespeel om die vyfmalige wêreldkampioen Lewis Hamilton van McLaren na Mercedes te lok.

Slegs dae voor die Monaco-Grand Prix Sondag, het sy dood die F1-gemeenskap geskud.

“Ons almal by McLaren is diep bedroef gelaat deur die nuus dat ons vriend, kollega en 1984-wêreldkampioen heengegaan het,” het dié span in ’n verklaring gesê.

“Niki sal vir altyd in ons harte voortleef en ’n spesiale plek in die geskiedenis van ons sport beklee.”

Niki Lauda het in sy Ferrari twee F1-wêreldtitels verower. Foto: Getty Images
Niki Lauda se Ferrari verlaat die grond tydens ’n oefenrondte vir die Duitse Grand Prix in 1976. Dié foto wys hoe gevaarlik die Nürburgring was, waar die wedren beslis is. Lauda het dae later ernstige brandwonde ná ’n ongeluk tydens die hoofwedren opgedoen. Foto: Getty Images

Die gewese Formule Een-wêreldkampioen Jenson Button het op Twitter gesê “ ’n legende het ons verlaat. Rus in vrede, Niki”.

* Lauda het in sy loopbaan 25 F1-wedrenne gewen en het 24 keer die voorste plek op die wegspringrooster beklee.

Hy het sy F1-debuut in 1971 vir die March-span gemaak en sy laaste Grand Prix was in 1985 vir McLaren.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Motorsport  |  Niki Lauda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.