Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nog kanonvoer vir bokser Tyson Fury
Het die hanswors in Tyson Fury eindelik die vegter verdryf?Foto: Getty Images

Tyson Fury se volgende teenstander sal nie eens sy vorige teenstander, wie hy in die tweede ronde uitgeslaan het, se broek laat bewe nie.

Fury boks op 14 September in Las Vegas se T-Mobile arena teen ene Otto Wallin van Swede.

Wallin spog glo met 20 oorwinnings in die beroepskryt. Hy het onder andere twee jaar gelede met punte oor agt rondes met Osborne Machimana in Stockholm afgereken.

Sy laaste geveg – op 13 April in Atlantic City – het nie ’n uitslag opgelewer nie.

Hier’s hy! Otto Wallin, die Sweed teen wie Tyson Fury volgende gaan boks.Foto: Getty Images
In sy vorige geveg het Wallin bietjie kopgestamp en toe begin bloei. Sy geveg is toe stopgesit.Foto: Getty Images

Dit was omdat Wallin en Nick Kisner mekaar per ongeluk in die eerste ronde met die kop gestamp het.

Daar was toe ’n sny bo Kisner se een oog en ’n gaatjie in Wallin se kop en die krytdokter het besluit om die geveg te stop.

Fury was laas in Junie in in die MGM Grand-arena in Las Vegas in aksie toe hy Tom Schwarz van Duitsland met ’n tegniese uitklophou in die tweede ronde verslaan het.

Schwarz was voor sy sogenaamde kragmeting met Fury ook onoorwonne. Nes Wallin het hy sy rekord teen onbekendes opgebou.

’n Mens wil nou nie snaaks wees nie, maar Schwarz teen Wallin maak meer sin as Fury teen een van die twee boksers wat beswaarlik as top vegters beskryf kan word.

“Hy is lank en met ’n herontmoeting met Deontay Wilder (die Wêreldboksraaad se swaargewig-kampioen) om die draai, sal dit goeie voorbereiding wees,” het Fury aan Boxing News Online gesê.

Hy is lank en met ’n herontmoeting met Deontay Wilder (die WBR se swaargewig-kampioen) om die draai, sal dit goeie voorbereiding wees.
Tyson Fury

Wilder plaas intussen sy titel in November teen die gedugte Kubaan Luis Ortiz op die spel.

Die ander groot kanon op die swaargewigtoneel, Andy Ruiz, verdedig sy Wêreldboksvereniging, Wêreldboksorganisasie, Internasionale boksfederasie en Internasionale boksorganisasie-titels in Desember teen Anthony Joshua in Saoedi-Arabië.

Ruiz het Joshua ’n paar maande gelede verrassend verslaan, maar die Mexikaan is voor daardie geveg darem reeds ’n top vegter beskou.

So, wat moet ’n mens van Fury se komende “geveg” teen Wallis dink?

Dat die Gypsy King geldgierig geraak het? Of het die hanswors in hom die oorhand gekry en verkies hy deesdae ’n sirkus bo ’n oorlog in die bokskryt?

Daardie hou waarmee Wilder hom laas Desember in die twaalfde ronde platgeslaan het, het dalk meer skade aangerig as wat Fury gewys het . . 

Meer oor:  Otto Wallin  |  Tyson Fury  |  Las Vegas  |  Titelgeveg  |  Wereldboksraad  |  Boks  |  Swaargewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.