Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Olimpiese kampioen sê dok lol met haar

Die viermalige Olimpiese gouemedaljewenner Simone Biles is die nuutste op ’n lang lys van vroueatlete wat sê sy is deur die voormalige dokter van die Amerikaanse gimnastiekspan Larry Nassar gemolesteer.

Simone Biles beweer sy is ook deur Larry Nassar gemolesteer. Foto: Getty Images

BBCSport berig die 20-jarige Amerikaner, wat ’n sleutelrol gespeel het in haar span se goue medalje by die Olimpiese Spele in Rio in 2016, sluit haar aan by ander elite gimnaste soos Gabby Douglas, Aly Raisman en McKayla Maroney wat Nassar van molestering beskuldig.

“Ek is ook een van die baie oorlewendes wat seksueel deur Larry Nassar gemolesteer is,” skryf Biles in ’n brief wat op haar Twitter-voer verskyn.

“Glo my asseblief as ek sê dit was baie taaier om die eerste keer daardie woorde te uiter as wat dit nou is om dit op papier neer te pen.

“Daar is so baie redes dat ek huiwerig was om my storie te vertel, maar ek weet nou dit was nie my skuld nie.”

Nassar (54) se regsverteenwoordiger, Matt Newburg, sê hy gaan nie kommentaar lewer oor die jongste aantygings nie.

Larry Nassar / Foto: AP

Nassar is verlede maand tot 60 jaar tronkstraf gevonnis op federale klagte van kinderpornografie. Hy sal na verwagting vandeesweek gevonnis word op addisionele veelvuldige klagte van seksuele aanranding terwyl hy in diens was van die Michigan State University.

“Dit is nie normaal om enige vorm van behandeling by ’n spandokter te ontvang en daarna op afskuwelike wyse as ‘spesiale’ behandeling te verwys nie,” sê Biles.

“Hierdie gedrag is misbruik, totaal onaanvaarbaar en walglik, veral deur iemand wat ek vertel is om te vertrou.”

Biles, wat vier goue medaljes in Rio verower het, sê die beweerde voorvalle het haar gebroke gelaat en “hoe meer ek die stem in my kop probeer ignoreer, hoe harder skree dit”.

Sy is sedert 2011 ’n elite gimnas en nadat sy ’n blaaskans geneem het om die lewe weg van die gimnasium te geniet, oefen sy weer met die doel om in 2020 aan die Spele in Tokio deel te neem.

“Dit is onbeskryflik moeilik om hierdie ondervinding te herleef en my hart breek selfs meer om te dink terwyl ek werk aan my doelwit om in Tokio deel te neem, ek gereeld sal moet terugkeer na dieselfde oefenfasiliteit waar die molestering plaasgevind het.” 

– Sportredaksie

Meer oor:  Molestering  |  Larry Nassar  |  Simone Biles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.