Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nog ’n tiener bespreek Spele-plek

’n Paar weke gelede het Matthew Sates in vyf verskillende swemitems binne ’n haarbreedte daarvan gekom om vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer – sonder sukses.

Die Pietermaritzburgse matrikulant Matthew Sates kan uiteindelik sy tasse vir die Olimpiese Spele in Tokio begin pak. Foto: Gallo Images | Anton Geyser

Vrydag in Stellenbosch het hy daardie hoop teleurstellings tot die agterkant van sy geheue verban, toe hy uiteindelik ’n kwalifiserende vereiste oortref het. En sommer in styl!

Sates (17) kan uiteindelik sy tasse begin pak, nadat hy die vereiste tyd in die 200 m- individuele wisselslag by Swem Suid-Afrika se eerste Cana Grand Prix in Stellenbosch oortref het.

Sates het die uitdunne van dié item in 1 minuut en 59.02 sekondes voltooi – 0.65 van ’n sekonde vinniger as die vereiste 1:59.67.

Later in die dag het hy die wisselslag-eindronde met ’n tyd van 2:01.77 gewen.

Sates het in April in Gqeberha (Port Elizabeth) in vyf items pynlik naby daaraan gekom om vir Tokio te kwalifiseer: die 100- en 200-vryslag, die 100-vlinderslag en die 200- en 400-individuele wisselslag. In die twee vryslag-items was hy ’n blote sekonde weg van ’n vliegkaartjie Tokio toe, in die 100-vlinderslag minder as twee tiendes van ’n sekonde en in die 200-wisselslag ’n byna nietige 0.02 van ’n sekonde.

Die agterdeur was weliswaar nog oop vir hom om met ‘B-tye’ in die SA swemspan ingesluit te word – maar ná sy “Ekstase in die Eikestad” is daardie opsie nie meer nodig nie.

Sates, ’n matrikulant aan St. Charles College in Pietermaritzburg, het Vrydag in Stellenbosch weer (soos in Gqeberha) ’n sege oor die superster Chad le Clos behaal.

Waar hy in April met hom klaargespeel het in die 200-vryslag, was Sates Vrydag te sterk vir Le Clos in die 50-vlinderslag (waarin die ouer Suid-Afrikaner die heersende Statebond-kampioen is).

Die tiener was daarin koning in 23.93 sekondes, teenoor Le Clos se 24.31.

Le Clos het wel goue medaljes gebuit in die 200-vlinderslag (met ’n wentyd van 1:57.52) en 100-vryslag (49.41). Die 29-jarige Kapenaar het ná die nasionale kampioenskappe gesê hy is nog ver van sy beste af en werk hard om sy beste peil in Tokio te bereik. Oor sy relatief stadige onlangse tye in Gqeberha en Stellenbosch is hy dus nie in sak en as nie.

Met Sates nou by, is die Suid-Afrikaanse swemspan vir Tokio nou sewe lede sterk. Le Clos, Tatjana Schoenmaker, Kaylene Corbett, Emma Chelius en nóg twee tieners, Ethan du Preez (17) en Pieter Coetzé (16), het reeds in Gqeberha gekwalifiseer.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Matthew Sates
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.