Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Gautengse netballiga kry wind van voor

Geen deure is toegeslaan nie, maar hokaai eers, julle span die kar voor die perde in.

Nes die Wes-Kaapse StellenSport-liga, het die beoogde Netbal Superliga (NSL) in Gauteng ook nou uitgevind jy moet dinge binne Netbal Suid-Afrika (NSA) se reëls, regulasies en grondwet doen.

Amanda Mynhardt, Rozanne Matthyse, Ziyaad Desai, die uitvoerende hoof, Elize Kotzé en Yolandi Ferreira by die spelersveiling.

Die NSL, wat uit agt franchises met private eienaars sal bestaan en in Februarie beslis word, is verlede Vrydag met ’n spelersveiling in Johannesburg bekend gestel.

Ure daarna het NSA met ’n skrywe aan sy distrikte gesê hy “distansieer” hom van die NSL, want hy het “nie reëls nagekom en dokumente ingedien nie”.

NSA sê “geregistreerde spelers en afrigters wat betrokke is by die NSL, of betrokke wil raak, moet weet die liga word nie onderskryf deur die beheerliggaam nie”.

Amanda Mynhardt, een van die stigterslede, sê die NSL wil met die toernooi netbal in die provinsie ontwikkel en help groei.

“Ons wil die klubstelsel laat herleef. Ons wil netbal in Gauteng help versterk en kyk hoe ons ’n bydrae kan lewer.”

Daar was groot belangstelling toe die nuus van die NSL se stigting bekend geword het.

Mynhardt sê 190 spelers het reeds geregistreer.

“Baie spelers wat ophou speel het, wil weer speel. Ander wat ná skool nie die kans gehad het nie, kan nou speel. Talle oudspelers is betrokke as afrigters.”

Mynhardt sê hulle sal by NSA aansoek doen om die toernooi te hou.

“Ons het nie kontrakte met enige speler nie en NSA-toernooie sal voorkeur geniet.”

Mynhardt sê die NSL is ’n geloofwaardige produk.

“As iemand soos die voormalige Protea-afrigter Elize Kotzé haar verbind, weet jy dit het geloofwaardigheid,” sê Mynhardt.

Kotzé is die hoofafrigter van die Shakti Tigers.

Van die voormalige Proteas wat hulle tot die NSL verbind het, is Mynhardt, Leigh-Ann Smal, Nontle Gwavu, Lindie Lombard, Chrisna van Zyl, Patrys van der Merwe, Des Kotzé en Vanes-Marí Proudfoot.

Die NSL was deurlopend in gesprek met rolspelers in Gauteng-netbal.

Riana Bezuidenhout, president van Gauteng-netbal.

Riana Bezuidenhout, president van Gauteng Netbal, sê daar is niks verkeerd met die konsep nie en niemand wil dit van hulle wegvat nie, maar daar is prosesse, reëls en regulasies wat gevolg moet word.

“Hulle het baie geesdrif en selfvertroue, maar Gauteng-netbal en -skolenetbal doen verslag aan NSA, wat aan die departement van sport verslag doen. Daar moet volgens die grondwet te werk gegaan word.

“Niks wat hulle wil doen, kan nié gedoen word nie. Dit moet binne riglyne plaasvind en ons gee hulle raad.

“Nie almal is administrateurs nie en ons wil nie hê almal moet administrateurs wees nie,” sê Bezuidenhout.

“Hoe sterker jou administrasie, hoe minder is die burokratiese rompslomp.”

Bezuidenhout voeg by so ’n liga moet toegevoegde waarde bied vir die hele Gauteng en al vyf sy distrikte en nie net een nie én dit moet Gauteng se demografie verteenwoordig.

’n Twispunt blyk te wees die feit dat franchises verkoop is en die kommersiële en privaatreg van netbal dan ter sprake kom.

Kotzé sê hulle is nie rebelle nie en sal met almal saamwerk.

“Die leierskorps het reeds geloofwaardigheid. Dit is oudspelers wat die spel wil dien en suksesvolle sakelui en borge.

“Dit is ’n professionele omgewing en besluite wat geneem word, is in die belang van die spel en die spelers. Dit gaan nie oor iemand se eer of ego nie.”

Sy sê die demografie het “spontaan” gebeur met meer as 50% gekleurdes wat deel wil wees van die NSL.

“Ons wil wegbeweeg van die stigma wat aan spelers klou, of jy nou van kwota of teiken praat,” sê Kotzé.

• Die StellenSport-premierliga wil tien spanne in die Wes-Kaap vestig. Hulle het ook aanvanklik teenstand van NSA gekry, maar die vredespyp is nou gerook.

Meer oor:  Netbal  |  Netbal Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.