Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nuwe helde in Dakar-tydren gebore

Tot Maandag het min mense geweet wie Ross Branch, ’n veelvuldige Suid-Afrikaanse motorfietsveldtydrenkampioen, is.

Net so min mense het die voormalige F1-wêreldkampioen Fernando Alonso enige kans gegee om enigsins vordering in hierdie nuwe renformule vir dié Le Mans-kampioen te maak.

Laai waai! Ross Branch gedurende Woensdag se vierde skof van die Dakar. Foto: BAS/Dakar-motorsportmedia

Maar die 2020-Dakar, wat Sondag in Saoedi-Arabië begin het, het aanhangers en kritici Woensdag regop laat sit.

Branch, wat op ’n KTM jaag, het Maandag die motorfietsafdeling in net sy tweede Dakar gewen. Dinsdag het sy motorfiets se agterwiel ’n klip getref en hy het hard met Moeder Aarde kennisgemaak.

Ross Branch vee die sand uit sy oë in die derde skof van die Dakar. Foto: AP

“Ek het die draai ’n bietjie wyd gevat en my skouer ontwrig, die punt van ’n vinger verloor en my motorfiets só erg beskadig dat ek nie verder self die navigasiewerk kon doen nie.”

Tipies Dakar het nog ’n deelnemer, Pablo Quintanilla, ondanks die feit dat hy en Branch teenstanders is, sy gevalle teenstander gehelp.

Branch het uiteindelik oor die 350 km later by die oornagkamp aangekom, waar hy en die BAS-span, wat hom as private jaer bystaan, die nodige herstelwerk begin doen het.

Die meeste deelnemers sou halt geroep het, maar die “Kalahri Ferrari”, soos Branch in plaaslike kringe bekend staan, het Woensdagoggend in die 46ste plek vir sneltrajek 4 weggetrek.

Dit was van vroeg af duidelik dat dié voltydse lugdiensvlieënier, wat in Krugersdorp in Gauteng gebore is en in Botswana werk, ’n man van staal is. Branch het van die begin af sy KTM se oor behoorlik gedraai – 46ste weggespring, 27ste by die eerste navigasiepunt (55 km ná die wegspring), 21ste ná 108 km, 14de ná 243 km, 7de ná 296 km en derde oor die wenstreep – net 55 sekondes agter die wenner.

Intussen het Alonso, wat vir die internasionale deel van die Toyota Gazoo-renspan in ’n SA geboude Hilux jaag, ook erg beïndruk nadat hy Maandag twee uur en 30 minute verloor het. Hy moes vir die diensspan se vragmotor wag om ’n wiel te vervang wat hy teen ’n klip stukkend gery het.

Fernando Alonso, Dakar
Fernando Alonso tydens die vierde skof van die Dakar-veldtydren. Foto: AP

Dinsdag het hy puik herstel en vierde oor die eindstreep gejaag – vinniger as die drie Hilux’e van sy meer ervare spanmaats Nasser al-Attiyah, wat vyfde was, Giniel de Villiers, wat negende was, en Bernhardt ten Brinke, wat tiende was.

Al-Attiyah was die beste van die Hilux-jaers in Woensdag se sneltrajek en het twee minute 26 sekondes agter die sneltrajekwenner, Stéphane Peterhansel (Mini), geëindig. Carlos Sainz (Mini) was derde, gevolg deur Yazeed Al-Rajhi (Toyota) en Mathieu Serradori (SA geboude Century-buisraammotor), met Suid-Afrika se Dakar-held De Villiers sesde in sy Hilux. Ten Brinke, sy spanmaat van Nederland, was Woensdag sewende ná nog ’n skoon lopie.

Alonso het nie so ’n goeie dag gehad nie en het in die 13de plek – 26 minute agter die voorjaers – by die eindpunt aangekom.

* Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt het Hennie de Klerk en Johann Smalberger die 28ste plek in hul Nissan Navara ingeneem, maar dit was veral die twee vroue-motorfietsjaers Taye Perry en Kirsten Landman wat hulle weer puik van hul taak gekwyt het. Perry was 60ste en Landman 70ste oor Woensdag se wenstreep.

Die Zimbabwiese jaer Graeme Sharp (KTM) was 67ste terwyl Stuart Gregory, wat sonder ondersteuning ry, 84ste was.

Perry en Landman is derde en vierde in die afdeling vir vrouejaers.

* Wat die algehele stand van sake onder die motorjaers betref, is Sainz nou die voorloper, Al-Attiyah drie minute en drie sekondes agterna in die tweede plek ná sy drie minute straftyd Dinsdag toe hy nie lank genoeg by ’n beheerpunt stilgehou het nie, en Woensdag se sneltrajekwenner Peterhansel derde.

De Villiers en Ten Brinke is nou sewende en agtste algeheel en Alonso, ten spyte van sy groot terugslag Maandag, in die 20ste posisie uit die 83 wat Sondag weggespring het.

Die vyfde sneltrajek Donderdag sal oor sanderige gebiede strek met groot rotse tussen Al’Ula en Ha’il wat as bakens gaan dien om met die navigasiewerk te help. Die roete is oor 564 km, waarvan 211 km nie-mededingend op die oop pad en 353 km die sneltrajek teen die stophorlosie is.

DAKAR-UITSLAE

Meer oor:  Dakar  |  Saoedi-Arabië  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.