Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Swaargewig-kampioen dán gekroon
Tian Fick kry teen einde November die kans om die Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen te word. Foto: Facebook

Die land sal, as alles volgens plan verloop, op Vrydag 27 November ’n nuwe swaargewig-bokskampioen hê.

Tian Fick en Joshua Pretorius pak mekaar op dié aand in die Vibrant-gimnasium in die Kaapstadse voorstad Ottery vir die vakante titel.

Die titel is tans sonder ’n houer omdat die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) vir Ruann Visser weens die beweerde gebruik van verbode middels vir vier jaar geskors het.

“Afhangende van wat vorentoe in die Covid-19-pandemie gebeur, hoop ons dat ons daardie aand darem so ’n paar honderd toeskouers by die geveg kan toelaat,” sê Jack Brice, die promotor.

Volgens Brice sal meer duidelikheid oor die voorgevegte later verskaf word en hy probeer glo om die hoofgeveg deur die SAUK uitgesaai te kry.

Fick sou in Desember verlede jaar teen Visser vir die titel te staan gekom het voor Visser geskors was.

Maar as jy, soos ek ses maande vir die geveg geoefen het en jou kans word van jou weggeneem, is dit sieldodend.
Tian Fick

Daardie geveg, wat in Kaapstad sou plaasvind, moes afgelas word toe een van die kryt se toue gebreek en Visser uit die kryt getuimel het.

“Vir iemand wat nie by die geveg betrokke was nie, was die voorval dalk snaaks. Maar as jy, soos ek ses maande vir die geveg geoefen het en jou kans word van jou weggeneem, is dit sieldodend,” het Fick onlangs aan SA Boxing Talk gesê.

Fick het ook gesê hy verwag ’n taaier geveg teen Pretorius as die een wat hulle in Junie verlede jaar gehad het.

Die Red Beast, Joshua Pretorius, sal graag sy nederlaag in ’n vorige geveg teen Tian Fick wil wreek. Foto: Facebook

Toe het Fick met punte oor agt rondes in die Sunningdale-sentrum in Kaapstad geseëvier.

“Ek verwag beslis ’n beter weergawe van hom (Pretorius). Hy het nou al agt rondes gehad om my uit te kyk en sal met meer selfvertroue in die kryt klim,” het Fick gesê.

Fick was laas op 30 Augustus verlede jaar in aksie toe hy Wikus Lubbe in die eerste ronde uitgeslaan het.

Hy is nog onoorwonne ná agt gevegte in die beroepskryt.

Pretorius het in Februarie vanjaar met punte oor agt rondes teen Limbani Lano gewen.

Die Red Beast, soos Pretorius bekend staan, spog met sewe oorwinnings, maar hy het ook al vier gevegte verloor.

• Rumble Africa Promotions het intussen bekend gemaak dat hy beplan om op Sondag 29 November ’n toernooi in Oos-Londen aan te bied.

Die gewilde super-veergewig Azinga Fuzile en belowende vlieggewig Luyanda Ntwanambi sal glo daardie aand in aksie wees.

Dis nog nie seker teen wie hulle sal baklei nie.

Meer oor:  Joshua Pretorius  |  Tian Fick  |  Kaapstad  |  Ottery  |  Toue Breek  |  Nasionale Titelgeveg  |  Boks  |  Swaargewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.