Griekeland se departement van sport het ’n beroep gedoen op regs- en sportowerhede in dié land om beweringe van seksuele aanranding van die Olimpiese seiljagkampioen, Sofia Bekatorou, te ondersoek.

Sofia Bekatorou tydens die Olimpiese Spele in 2008. Foto: Getty Images
Bekatorou, wat die goue medalje in seiljag gewen het op die Olimpiese Spele van 2004 in Athene, het vandeesweek in ’n aanlyn konferensie wat deur die regeringsdepartement van sport gereël is, beweer sy is in 1998 deur ’n sportbeampte seksueel aangerand.
Sy het nie die persoon se naam genoem nie. Sy sê sy het nie destyds oor die aanranding gepraat nie, omdat sy bang was dit sou haar sportdroom vernietig en die Griekse seilspan verdeel.
Die dekade wat gevolg het, was egter taai.
“In dié tydperk het ek amper alles in Griekse seiljag bereik, maar ek het die waardevolste deel van my persoonlikheid verloor: Om myself lief te hê,” het Bekatorou glo gesê.
Die Hellenic-seiljagvereniging sê in ’n verklaring hy is nie voorheen van die voorval ingelig nie en vra dat Bekatorou spesifiseer wat gebeur het. Die vereniging sê hy sal “die regte ding” doen as dit onder sy gesag val.
Spyros Kapralos, ’n lid van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en hoof van die Hellenic Olimpiese Komitee, sê hy sal Bekatorou “met al sy mag” ondersteun en vra dat ander atlete ook na vore tree.
“Ons soek ’n veilige, etiese, behoorlike en reine sportomgewing,” sê hy. – Reuters