Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Spele-ster wat ontkleedanse doen, sterf

’n Finse skiër wat ongekende sukses in sy loopbaan behaal, maar ook ’n stryd teen alkoholverslawing gevoer het, is Maandag dood.

Matti Nykänen in aksie by die Olimpiese Winterspele in 1984 in Sarajevo. Foto: Getty Images

Die 55-jarige Matti Nykänen se vrou, Pia, het aan die Finse tydskrif Seiska bevestig dat haar man dood is sonder om die oorsaak van sy dood bekend te maak.

Die Vlieënde Fin, soos wat Nykänen bekend gestaan het, het vier goue medaljes by die Olimpiese Spele gewen – drie daarvan by die Winterspele in 1988 in Calgary, Kanada. Toe het hy die eerste deelnemer aan ski-spronge geword wat koning kon kraai op die standaard én groot heuwel.

Sy sege op die groot heuwel by 1984 se Spele in Sarajevo was met ’n rekord-verskil bo die atleet wat tweede was.

Asof dit nie genoeg is nie, het hy ook vyf goue medaljes by die Wêreldkampioenskappe tussen 1982 en 1989 gewen. Al sy sukses het hom ’n superster gemaak en besonderhede van sy persoonlike lewe was gereeld in koerante.

In 2008 het Matti Pulli, ’n eertydse afrigter, na die Fin verwys as die beste skiër tot nog toe. Ten spyte van dié sukses het Nykänen juis gesukkel met die etiket van beroemd wees.

’n Jaar voor die Spele in Calgary is hy byvoorbeeld huis toe gestuur vir slegte gedrag en “oormatige alkoholmisbruik”.

Ná sy uittrede in 1991, toe hy 50ste by daardie jaar se Wêreldkampioenskap geëindig het, het hy gesukkel om aan te pas by ’n lewe weg van die sportarena.

Hy het ’n loopbaan as ’n sanger probeer volg en was selfs vir ’n rukkie ’n ontkleedanser, dít terwyl sy finansiële probleme net meer en meer geword het.

Die media in Finland het gedurig berig oor die verskeie huwelike wat hy gehad het, sy gewelddadige gedrag en verskeie voorvalle wat verband gehou het met sy misbruik van alkohol.

In sy biografie het Nykänen geskryf: “Ek het nie ’n privaat lewe nie, maar ek het inderdaad ’n slegte beeld na buite.”

Dié beeld is natuurlik daardeur versterk dat hy twee keer tronkstraf uitgedien het. En asof dit nie genoeg is nie, is diabetes ook ’n jaar gelede by hom gediagnoseer.

– Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Alkoholis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.