Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Beslissings befoeter 2 groot gevegte

Die omstrede uitslae in albei die naweek se twee groot boksgevegte het drastiese gevolge gehad.

Eers is Hekkie Budler Saterdag volgens sy afrigter Colin Nathan in die Filippyne van ’n oorwinning oor Milan Melindo, die Internasionale Boksfederasie (IBF) se ligvlieggewigkampioen, “beroof”.

Hekkie Budler is steeds stomgeslaan dat hy nie as die wenner van sy geveg teen Milan Melindo in Cebu City in die Filippyne aangewys is nie. Foto: Gallo Images

En toe het die skitterende geveg tussen die wêreldklasmiddelgewigte Gennady Golovkin en Canelo Álvarez in Las Vegas, Amerika, gelykop geëindig omdat een beoordelaar ’n bisarre puntekaart ingegee het.

Die nadraai van die Budler-geveg is dat die promotor Rodney Berman sy bande met die IBF gaan verbreek. Hy sê op Golden Gloves se webwerf ook dat hy nooit weer sal toelaat dat een van sy vegters in die Filippyne sal boks nie.

Berman het ’n brief aan Daryl Peoples, die IBF se president, geskryf, waarin hy sy klagtes opper. Dit sluit in dat Melindo se helpers gedurende rondes sommer toegelaat is om ys op sy nek te sit en die wonde om sy oë te versorg. Berman is ook briesend dat die skeidsregter beslis het Budler is in die laaste ronde platgeslaan terwyl hy duidelik net gegly het.

Een van die beoordelaars is verder onder skoot omdat hy beslis het Melindo het met ses punte gewen.

Brian Mitchell, voormalige wêreldkampioen, het intussen op Facebook gesê hy glo Budler het met vier punte gewen.

Die beoordelaar wat in Las Vegas gedink het Álvarez het met 118-110 teen Golovkin gewen, moet op haar beurt oor haar puntetoekenning verantwoording doen.

Gennady Golovkin is in die kol met een van die 218 houe waarmee hy Canelo Álvarez getref het. Dis onseker of die beoordelaar Adalaide Byrd darem hierdie hou raakgesien het. Foto: Getty Images

Adalaide Byrd sal volgens Bob Bennett, die Nevada State Commission se uitvoerende direkteur, gevra word om ’n “kort onderbreking” van haar werk as beoordelaar te neem.

Volgens The Telegraph sal Bennett haar ook vra om te verduidelik hoe sy by haar telling van 118-110 uitgekom het.

“Die gaping is ’n bietjie groot,” sê Bennett.

Ook Oscar de la Hoya, die promotor van die geveg en self ’n voormalige topvegter, was “geskok” oor Byrd se sommetjies.

Golovkin het met 218 houe getref en Álvarez met 169.

Byrd was al in die verlede verskeie kere by omstrede beslissings betrokke. So was sy in 2016 die enigste beoordelaar wat gedink het Amir Khan was die wenner in sy geveg teen Álvarez. En in 2008 was sy die enigste beoordelaar wat gedink het Bernard Hopkins was die wenner teen Joe Calzaghe.

Die uitslag van Saterdag se geveg sal in die rekordboeke gelykop bly. Die wiele is egter reeds aan die rol vir ’n herontmoeting volgende jaar tussen Golovkin en Álvarez.

Meer oor:  Rodney Berman  |  Gennady Golovkin  |  Boks  |  Hekkie Budler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.