Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Stadions in hospitale omskep

Stadions waar sokker-, krieket- en tennisballe eens geklap het, word tans in hospitale omskep weens die Covid-19-pandemie.

’n Aantal sportstadions in Engeland het hul geriewe aan die National Health Service (NHS) en plaaslike owerhede beskikbaar gestel om die gesondheidskrisis te takel.

Die Arthur Ashe-stadion in die Billie Jean King-tennissentrum in Queens, New York. Foto: Getty Images

Onder hulle tel die krieketmekka Lord’s, die Wembley-sokkerstadion, die Silverstone-wedrenbaan, Wimbledon se tennisgeriewe, Twickenham se rugbyveld en die sokkerklub Tottenham Hotspur se stadion.

Die Amerikaanse Tennisvereniging het ook Dinsdag gesê ’n gedeelte van die Billie Jean King-tennissentrum in New York sal in ’n tydelike hospitaal met 350 beddens omskep word. Die stadion is die tuiste van die Amerikaanse Ope.

Lord’s in Londen is veronderstel om einde Junie die tuiste van ’n kriekettoets tussen Engeland en die Wes-Indiese Eilande te wees.

Die Marylebone-krieketklub (MCC) sê hy gee ook 75 parkeerplekke vir NHS-personeellede van nabygeleë hospitale.

“Ons is bedag op ons verantwoordelikheid as ’n sportinstansie en ’n lid van die plaaslike gemeenskap om ons deel te doen,” sê die MCC in ’n verklaring.

“Omdat daar ’n paar hospitale naby aan Lord’s is, gee dit ons die geleentheid om mediese personeel by te staan sodat hulle die voortslepende stryd teen die virus kan voortsit.”

Die All England Club, waar Wimbledon jaarliks in Junie plaasvind, het ook sy geriewe en mediese toerusting beskikbaar gestel.

Die Premierliga-klub Tottenham Hotspur se stadion in Londen. Foto: Reuters

Die Premierliga-klub Tottenham het sy hekke oopgestel sodat pasiënte daar versorg kan word.

Chris Widmaier, woordvoerder van die Amerikaanse Tennisvereniging, sê ’n binnenshuise baan by die Flushing Meadows-kompleks sal Dinsdag in ’n hospitaal omskep word.

“New York is ons tuiste. Ons is hier om te help,” sê hy.

New York se stadsvaders het Maandag begin om ’n veldhospitaal met 68 beddens in ’n gedeelte van Central Park op te rig. – TeamTalk, Reuters

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.