Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Todt deel skaars nuus oor Schumacher
Bitter goeie vriende: Michael Schumacher en Jean Todt. Foto: Getty Images

Jean Todt, voormalige grootbaas van Ferrari, het skaars en bemoedigende nuus oor die Formule Een-legende Michael Schumacher gedeel nadat hy hom onlangs in sy huis in Genève, Switserland besoek het.

Die Duitse wenner van sewe Formule Een-wêreldtitels veg verbete om te herstel van ernstige breinbeserings wat hy in ’n ski-ongeluk in 2013 opgedoen het.

Nuus oor die 51-jarige motorsportlegende se gesondheid is skaars en hy is nou al byna sewe jaar heeltemal uit die openbare oog.

Maar Todt (74) geniet ’n noue band met die Schumacher-gesin sedert die duo ’n formidabele vennootskap by Ferrari gevorm het. Hy was aan die stuur van die Italiaanse span vir vyf van Schumacher se sewe wêreldtitels.

Todt is een van slegs ’n handvol familie en vriende wat in die Schumacher-herehuis op die oewer van die meer van Genève, waar die Duitser herstel, toegelaat word.

The Independant berig Todt het verlede week verduidelik dat Schumacher met behulp van sy “ongelooflike” vrou, Corinna, en ondersteuningswerkers rondom hom, aanhou herstel.

“Ek het vir Michael gaan kuier en hy veg voort,” sê Todt.

“Ons weet hy het ’n aaklige ski-ongeluk gehad wat hom baie probleme veroorsaak het, maar hy het ’n ongelooflike vrou by hom, hy het sy kinders en sy verpleegsters en ons kan hom en sy gesin net die beste toewens.

Al wat ek kan doen is om naby aan hulle te bly tot ek in staat is om iets te doen, dan sal ek dit doen.

Die Fransman, deesdae grootbaas van motorsport se beheerliggaam, die FIA, het in Junie soortgelyke nuus oor Schumacher gedeel tydens ’n besoek aan die Hongaarse Grand Prix.

“Ek hoop die wêreld sal hom weer sien,” het hy destyds gesê.

“Dit is waarheen hy en sy gesin werk. Hy gee eenvoudig nie moed op nie.”

Hy het ook in 2019 ’n Grand Prix op televisie saam met Schumacher gekyk.

“Ek is altyd versigtig met sulke uitlatings, maar dit is die waarheid. Ek het die wedren saam met Michael Schumacher in sy huis in Switserland gekyk,” het Todt gesê.

“Michael is in die beste hande en daar word goed na hom omgesien. Hy gee nie moed op nie en hou aan veg.”

Hoewel Todt se nuus hoop vir miljoene Schumacher-aanhangers oor die wêreld heen verskaf, is hy deurlopend eerlik en erken dit is moeilik vir die gesin met Schumacher wat nie in staat is om behoorlik te kommunikeer nie.

“Sy gesin veg net so hard en uiteraard kan ons vriendskap nie dieselfde as voorheen wees nie, eenvoudig omdat daar nie dieselfde kommunikasie as voorheen is nie.

“Ek is baie geheg aan Michael. Hy was nog nooit iemand wat sy vriendskap maklik gedeel het nie, maar hy het met my, en dit skep 'n baie hegte verhouding – vriendskap en liefde vir altyd.”

Lewis Hamilton is op koers om al Schumacher se rekords te verbeter. Foto: Getty Images

• Todt is filosofies oor die feit dat die 35-jarige Brit Lewis Hamilton, wenner van ses F1-titels, op koers is om al Schumacher se rekords te verbeter, insluitende sy 91 loopbaan-oorwinnings.

“Lewis gaan al Michael se rekords verbeter eenvoudig omdat hy ’n baie talentvolle renjaer is.

“Hy is gemotiveerd en ding mee vir die beste span. Hy beskik oor die beste renmotor, die beste enjin, so al die bestanddele is daar.

“Dit is logies dat wanneer jy so goed in die lewe vaar, put jy voordeel daaruit en dit is wat met Lewis en Mercedes gebeur.

“Ons het gedink dit gaan baie moeilik wees om die rekords te verbeter, maar langdurige stabiliteit van die regulasies het hulle gehelp.

“Een renjaer ken ek baie goed, die ander renjaer ken ek net van sien. Duidelik verskil hulle hemelsbreed, maar hulle deel die passie, professionaliteit, fisieke kondisionering en talent. Dit is wat albei uitstaande maak.” – Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Motorsport  |  Jean Todt  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.