Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Swaargewig keer op 50 terug as middelgewig
Chris Byrd koggel Evander Holyfield tydens hulle geveg in 2002 in Atlantic City. Foto: Getty Images

Hy was al die swaargewigbokskampioen van die wêreld en nou wil die 50-jarige Chris Byrd na die kryt terugkeer om ’n middelgewigkampioen te word.

Byrd het in 2009 laas geboks en sedertdien het hy vir jare met chroniese pyne weens verkeerde eetgewoontes gesukkel.

“My linkerbeen het in ’n stadium só gepyn, ek wou dit afsny,” het Byrd hierdie week aan World Boxing News vertel.

Volgens die Amerikaner het sy probleme jare gelede begin toe hy vir geld begin boks het.

“Niemand wou teen my in die middelgewig-afdeling boks nie, toe eet ek tot ek ’n swaargewig was,” het hy vertel.

As swaargewig het Byrd die Wêreldboksorganisasie en die Internasionale Boksfederasie se titels gewen.

Hy het eindelik 41 gevegte gewen, vyf verloor en een keer gelykop geboks.

Onder die bekende boksers met wie hy afgereken het tel Evander Holyfield, Vitali Klitschko, Jameel McCline en David Tua.

Die vier manne wat daarin kon slaag om hom te klop, was Wladimir Klitschko (twee keer), Alexander Povetkin, Ike Ibeabuchi en Shaun George.

Hy het gelykop teen die berugte Poolse breker Andrew Golota geboks.

Volgens Byrd het hy drie jaar gelede, toe sy dogter besluit het om te trou, sy eetgewoontes drasties verander omdat hy haar die kerk wou inlei sonder om op ’n kierie te leun.

Só lyk die 50-jarige Chris Byrd deesdae. Foto: Facebook

Hy het opgehou om graan en suiker en suiwelprodukte te eet en streng vegetaries geword.

Hy het ook daggaprodukte, soos olies, begin gebruik.

En nou voel hy weer jare jonger en hy is vasbeslote om – as middelgewig – ’n terugkeer tot die bokskryt te maak.


Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.