Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Hokkie: ‘Pad na Spele begin in Spanje’

Een van Erin Hunter, nuwe kaptein van die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespan, se drome aan die begin van ’n nuwe era wat Vrydagaand met ’n oefenreeks teen Namibië begin het, is dat die Proteas weer Olimpiese Spele toe sal gaan.

Erin Hunter nuwe kaptein van Suid-Afrika Foto: Getty Images

Sy sê om nie volgende jaar Tokio toe te gaan nie en die Spele ’n tweede agtereenvolgende keer mis te loop, sal sake vorentoe opnuut moeiliker maak.

Die drie wedstryde teen die buurland die naweek in Randburg is voorbereiding vir volgende maand se FIH-toernooi in Valencia, Spanje.

Hunter wys daarop dat hulle in alle waarskynlikheid kan vergeet om Spele te gaan as hulle nie reeds volgende maand daar onder die voorste twee spanne eindig nie.

“Volgens die reëls van internasionale beheerliggaam kan ons as Afrika-kampioen vir die Spele kwalifiseer.

“Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het egter by sy magte bykomende kriteria aan ons gestel. Volgens Saskok moet onder die twee voorste spanne in Valencia eindig om ’n kaartjie Spele toe te kry.

“Die liggaam sal ons nie stuur as ons later vanjaar in die toernooi om die Afrikabeker daarvoor kwalifiseer nie, verduidelik die skooljuffrou, wat wiskunde en wetenskap by haar alma mater Rand Park High School aanbied.”

Ná Saskok ’n stokkie voor die nasionale spanne se deelname aan 2016 se Spele in Rio de Janeiro gesteek het, het die spanne ’n paar plekke geval op die ranglyste.

“My droom nou vir hierdie span is ’n nalatenskap en om na 2020 se Spele toe te gaan. As die span op nóg ’n Spele uitmis sal dit die rit uiters moeilik vir toekomstige spelers maak.”

Hulle besef terdeë wat hulle te doen staan om hul plek na Tokio toe bespreek.

“Ons vat dit op die oomblik een tree op ’n slag. Ons fokus vir eers net op Valencia.”

Suid-Afrika kom in die groepfase daar teen Wallis, Italië en Thailand te staan.

Ez (haar bynaam) klink optimisties ná die veranderinge wat intussen gemaak is wat die aanstelling van ’n nuwe afrigter, Robin van Ginkel, insluit.

“Alles is baie nuut wat dit opwindend en skrikwekkend maak. Ons het ’n jong span, nuwe afrigtingspersoneel en natuurlik nuwe leierskap.

“Ek is bly dat ons verandering sien. Dit was nodig na verlede jaar se teleurstellende Statebondspele en Wêreldbeker-toernooi.

“Die span is baie opgewonde en positief wat baie met die nuwe afrigter se positiewe uitkyk te make het.”

Hunter sê dit is moeilik om te sê waar hulle staan voordat hulle nie ’n werklike toets op die internasionale verhoog gehad het nie.”

Sy was daarop dat Van Ginkel haar reeds die laaste twee jaar op klubvlak afrig en dat hulle ’n goeie verhouding het.

“Rob het ’n positiewe houding en is vol selfvertroue. Ek het dit reeds sien deursyfer na die span. Ek hoop hy sal voortgaan om ons te laat glo dat ons dit verdien om met die beste in die wêreld mee te ding.”

Sy glo dat Suid-Afrika, tans 15de op die ranglys, die talent het om ’n top10-land kan word, maar dan moet hy meer internasionale wedstryde speel.

“Ons ondergang was nog altyd die gebrek aan internasionale deelname. Totdat ons ons nie gereeld teen topspanne meet nie, sal dit moeilik wees om in die top10 in te sluip.”

Sy weier om verder nadruk plaas oor waarmee hulle oor die weg moet kom in vergeleke met ander wat baie beter af is.

“Op die einde van die dag moet jy die situasie waarin jy is aanvaar en daaroor kom. Ons kan nie aanhou om verskonings te maak nie. Ons weet wat ons situasie is en ons moet die beste maak van wat ons het.

“Ons probeer om dit wat ons kan beheer te beheer. Ons is baie gelukkig om Supergroup aan boord te hê want sonder die borg sal ons dalk nie eers in Valencia uitgekom het nie. Ons is dankbaar vir wat ons het en gaan ons nie verknies oor die dinge wat ons nie het nie.”

Meer oor:  Hokkie  |  Erin Hunter  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.