Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Pasop, Giant King . . . Justice wag!

Justice Siliga kan Ruann Visser tot die uiterste toe beproef indien dié twee swaargewigte mekaar in die kryt sou pak.

Siliga het Sondag in Randburg ’n goeie oorwinning oor Josh Pretorius behaal en gewys Visser durf hom nie onderskat nie.

Justice Siliga hoop om vanjaar nog teen die SA swaargewigkampioen Ruann Visser te boks.Foto: Facebook

Siliga is die eerste aanspraakmaker op Visser se Suid-Afrikaanse swaargewigtitel.

Hy en Pretorius, die tweede aanspraakmaker, het mekaar by tye in die Gemeenskapsaal in Blairgowrie, Randburg, met harde houe geskud.

Om die waarheid te sê dinge het so woes gegaan in die eerste twee rondes dat ’n mens byna gewonder het of jy besig is om na een van die ou Rocky-flieks te kyk.

Die geveg het skaars begin toe stuur Pretorius vir Siliga met ’n linkerhaak planke toe.

Kort daarna het Siliga vir Pretorius met ’n wilde regter-boulhou van sy voete af geslaan.

In die tweede ronde het Pretorius vroeg met ’n goeie regterhaakhou getref en Siliga het wydsbeen gaan sit.

Siliga het egter opgestaan en verwoed teruggeveg.

In die volgende paar rondes was daar teleurstellend min aksie, maar in die laaste ronde – die agtste – het altwee vegters weer lekker ingeklim.

Twee beoordelaars het gedink Siliga het met punte gewen terwyl die ander Pretorius verkies het.

Visser, wat in sy laaste geveg ’n flou vertoning teen Elvis Moyo van Zimbabwe gelewer het, moet sy titel die een of ander tyd teen Siliga verdedig.

Dit klink of die Giant King egter eers in April in Duitsland op ’n toernooi gaan boks.

Die jong swaargewig Wilhelm Nebe het op die toernooi in Randburg sy derde agtereenvolgende oorwinning behaal toe hy Nhlakanipho Gwamanda met ’n tegniese uitklophou in die eerste ronde oorweldig het.

Nebe se boksstyl is in hierdie stadium terselfdertyd lagwekkend én skrikwekkend.

Die Dragon – soos hy homself noem – bestorm sy teenstander eenvoudig en dan trek hy met ’n onophoudelike sarsie aardige kort haakhoue los tot sy teenstander oorgee.

Ja, ’n mens kan vir hom lag, maar die aggressiewe Nebe is so groot en so sterk dat daar in hierdie stadium min swaargewigte in die land is wat sy aanslag sal oorleef.

Die bonus wanneer Nebe wen is natuurlik daardie bloedstollende brul wat hy uiter wanneer die skeidsregter sy teenstander uittel.

Meer oor:  Boks  |  Ruann Visser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.