Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Patterson: Van ‘bang hasie’ tot breker

Floyd Patterson is op sy dag as ’n “bang hasie” wat “peek-a-boo” speel, beskryf.

Ingemar Johansson en Floyd Patterson het drie keer teen mekaar geboks. Die Sweed het die eerste geveg gewen en die Amerikaner die volgende twee. Foto: Getty Images

Patterson het egter vir ’n paar eerstes in die boksgeskiedenis gesorg en Anthony Joshua kan hom as inspirasie gebruik in sy strewe om sy swaargewigtitels hierdie naweek terug te wen.

Joshua kry Saterdag in Saoedi-Arabië die kans om wraak te neem op die verpletterende nederlaag wat hy vroeër vanjaar teen Andy Ruiz gely het.

Daar is mense wat die Brit nie ’n kans teen die Mexikaner gee nie.

Baie mense het destyds ook nie vir Patterson ’n kans teen Ingemar Johansson gegee nadat die Sweed hom in hul eerste geveg ’n rekord aantal kere op die krytvloer gehad het nie.

Maar Patterson het sy kritici verkeerd bewys. Hoewel hy nie as een van die beste swaargewigkampioene onthou sal word nie, het die Amerikaner beslis sy merk gemaak.

Hy was die eerste bokser wat ’n Olimpiese goue medalje gewen en daarna voortgegaan het om die swaargewigtitel van die wêreld te wen.

Hy was ook vir jare die jongste vegter om dié titel te wen, op 21 jaar en 11 maande.

Ingemar Johansson troon bo Floyd Patterson uit in hul eerste geveg in 1959 in New York. Foto: A Pictorial History of Boxing

En hy was die eerste bokser wat daarin kon slaag om die titel terug te wen nadat hy dit verloor het.

Patterson het die vakante titel in 1956 gewen toe hy Archie Moore in die vyfde ronde uitgeslaan het.

Hy het die titel toe vier keer verdedig voor hy op ’n reënerige aand in Junie 1959 in die Yankee-stadion in New York teen Johansson te staan gekom het.

Daar was mense wat Johannson nie ernstig opgeneem het nie. By dieselfde Spele in 1952 in Helsinki waar Patterson die middelgewigtitel gewen het, het hy naam weggegooi.

Hy het in die eindronde van die swaargewigafdeling teen Ed Sanders geboks en is toe gediskwalifiseer omdat hy glo nie hard genoeg probeer het nie.

Johansson was teen 1959 ’n ryk sakeman met heelwat sangtalent. Hy was ook ’n vlugvoetige baldanser – iets wat in Swede meer gewild as boks was.

Daardie tyd was daar maar iets soos 200 beroepsboksers in dié land.

Johansson het sy vriendin Birgit Lundgren saam na Amerika gevat. Birgit het die veteraan-boksskrywer Peter Wilson se asem weggeslaan toe hy haar in ’n pienk kleefbroek, wat gelyk het of dit aan haar geverf is, gesien het.

Wilson het ook hardop gewonder waarom gebruik Johansson sy regtervuis so min gedurende skermsessies.

In hul tweede geveg het Floyd Patterson vir Ingemar Johansson lelik opgefoeter. Foto: The Great Heavyweights

“Ek gebruik my regter spaarsamig teen my skermmaats want ek slaan hulle gewoonlik óf uit of ek maak hulle seer en dan hardloop hulle weg,” het Johansson verduidelik.

Sportskrywers het die Sweed se regter as “die hamer van Thor” of “Ingo’s Bingo” beskryf.

Daardie beskrywings was gepas in sy geveg teen Patterson.

Maar Johansson was nie net ’n uitklopkoning nie, hy was baie slim en het sy teenstander geduldig uitgelok om ’n fout te maak voor hy toegeslaan het.

In die eerste twee rondes het hy net sy reguitlinker knaend uitgesteek. Dit het Patterson irriteer en frustreer en hy het ongeduldig geraak.

In die derde ronde het die Amerikaner roekeloos geraak en hom die eerste keer in een van Johansson se groot regters vasgeloop.

Nou, Patterson was iemand wat baie keer in sy loopbaan platgeslaan is, maar daardie aand kon hy net sowel vir hom ’n kussing saamgevat het kryt toe.

Johansson het hom sewe keer in die derde ronde planke toe gestuur.

Wat ’n vernedering! Iemand met minder selftrots sou net daar sy bokshandskoene weggepak het.

Nie Patterson nie. Hy het soos ’n waansinnige geoefen en op 22 Junie 1960 klim hy toe weer teen Johansson in die kryt.

Die geveg was by die Polo-veld in New York.

Johansson op die planke in die vyfde ronde van sy tweede geveg teen Patterson. Hy het sowaar van hier af opgestaan, net om in dieselfde ronde uitgeslaan te word. Foto: Getty Images

Daardie aand het die man wat op ’n keer deur Muhammad Ali ’n “bang hasie” genoem is een van sy beste vertonings in die bokskryt gelewer.

Hy het nie soos in die eerste geveg agter sy handskoene weggekruip en “peek-a-boo” gespeel nie.

Omdat hy sulke kort arms gehad het, het hy soms die gewoonte gehad om met albei voete van die grond af te spring wanneer hy iemand slaan.

Dit het hy toe ook teen Johansson gedoen. Hy het Johansson die pakslae van sy lewe gegee.

Die uitklophou waarmee hy die Sweed in die vyfde ronde getref het, was brutaal.

Dit was ’n linkerhaakhou. Johansson se kop het geklap toe dit die krytvloer tref.

Volgens Wilson het dit gelyk of hy reeds in die lykshuis lê, behalwe dat sy linkervoet nou en dan ’n rukkerige beweginkie gemaak het.

“Dit was een van die mees makabere en vreesaanjaende uitklophoue wat ek ooit aanskou het,” het Wilson geskryf.

Johansson was vir agt minute bewusteloos.


Meer oor:  Boks  |  Anthony Joshua
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.