Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Pogacar steel geeltrui én Tour by Roglic

Die Tour de France is Saterdag op sy kop gekeer toe die Sloweense fietsryer Tadej Pogacar die 20ste skof wen en daarmee verseker het dat hy vanjaar met die algehele titel gaan wegstap.

Die Sloween Tadej Pogacar tydens die 20ste skof. Foto: Reuters

Die 21-jarige Pogacar (UAE) het die skof, ’n individuele tydtoets oor 36 km tussen Lure en La Planche des Belles Filles, in 55 minute en 55 sekondes voltooi. Nederland se Tom Dumoulin (Jumbo-Visma) was tweede (+1 minuut, 21 sekondes), gevolg deur die Aussie Richie Porte (Trek-Segafredo).

Die skof het geëindig teen ’n kategorie 1-klim, wat 5,9 km lank is en ’n gradiënt van 8,5% het.

Die uitslag is ’n skok, aangesien Pogacar se landgenoot Primož Roglic (Jumbo-Visma) aan die aanvang van die skof in die geeltrui was, 57 sekondes bo Pogacar. Niemand het gedink dat Roglic van sy amperse troon gestamp sal word nie – maar Pogacar het sy fiets soos ’n besetene in die tydtoets getrap.

Pogacar het natuurlik in sy binneste geweet hy kan Roglic ore aansit – hy het immers vroeër vanjaar die Sloweense tydtoets gewen, met Roglic wat toe met die tweede plek tevrede moes wees.

Behalwe vir sy ouderdom, is Pogacar ’n groentjie wat vanjaar die eerste keer aan die Tour de France deelneem. Hy het verlede jaar derde in die Vuelta a España klaargemaak toe Roglic daar met die louere weggestap het.

Primož Roglic tydens die 20ste skof. Foto: Reuters

“Ek dink ek droom, ek weet nie wat om te sê nie,” het Pogacar in ’n TV-onderhoud ná die tyd gesê. Hy het die onderhoud onderbreek om Roglic, met wie hy duidelik goed bevriend is en wat verslae gelyk het, te omhels.

En Roglic, wat die skof in die vyfde plek voltooi het en die afgelope drie weke nie ’n voet verkeerd kon sit nie, het geen antwoord in die skof gehad nie. Dit was duidelik dat hy nie op sy gemak op sy fiets was nie.

Die 30-jarige Roglic sal die Tour Sondag, wanneer die laaste skof op die Champs-Élysées in Parys eindig, algeheel in die tweede plek klaarmaak – 59 sekondes ná sy jong landgenoot.

Porte se goeie vertoning het verseker dat hy Sondag algeheel derde sal eindig.

Suid-Afrika se Daryl Impey (Mitchelton-Scott) is algeheel in die 97ste plek, met Ryan Gibbons (NTT) 121ste.

Die plaaslike NTT is 20ste in die spankompetisie.

• Die 21ste en laaste skof, wat basies seremonieel is, word Sondag oor 122 km tussen Mantes-la-Jolie en Paris beslis. Die naelryers sal wel sake teen die einde uitspook om die skof te beklink.


Meer oor:  Tadej Pogacar  |  Primoz Roglic  |  Geeltrui  |  Fietsry  |  Tour De France
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.