
Die Russiese swaargewigbokser Alexander Povetkin het skynbaar sy stryd teen die koronavirus gewen. Foto: Getty Images
Die Russiese swaargewigbokser Alexander Povetkin het weer begin oefen nadat hy ’n tyd lank deur Covid-19 platgetrek was.
Povetkin was veronderstel om op 21 November in Londen weer teen Dillian Whyte van Brittanje te boks, maar die geveg moes weens sy siekte uitgestel word.
Volgens Boxing Scene was Povetkin ’n tyd lank in ’n hospitaal in Moskou, maar hy sterk nou tuis aan en het reeds weer liggies begin oefen.
Povetkin het Whyte in Augustus in die vyfde ronde uitgeslaan, maar danksy ’n klousule in sy kontrak kon Whyte ’n herontmoeting met die Rus afdwing.
’n Woordvoerder van die promotor Eddie Hearn het gesê Povetkin en Whyte sal mekaar nou teen die einde van Januarie pak.
• Hierdie week is daar intussen verskeie gevegte waarna boksentoesiaste kan uitsien.

Die onoorwonne Errol Spence (regs) veg hier teen Shawn Porter. Hy sal die naweek weer in aksie wees nadat hy ’n tyd lank ná ’n motorongeluk in die hospitaal was. Foto: Getty Images
Die grootste een vind Saterdag in Arlington in Amerika plaas, waar Errol Spence sy weltergewigtitels van die Wêreldboksraad en Internasionale Boksfederasie teen Danny Garcia verdedig.
Plaaslike entoesiaste sal dalk meer belangstel in Sondag se geveg in die Orient-arena in Oos-Londen, waar die super-veergewigte Azinga Fuzile en Lunga Stimela mekaar pak.
Voor dit sal die kollig egter Vrydag op die Wembley-arena in Londen val, waar Billy Joe Saunders sy super-middelgewigtitel van die Wêreldboksorganisasie teen Martin Murray gaan verdedig.