Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Pretty Lady’ slaan so hard soos ’n man!

Sy gaan oor ’n paar maande in ’n swaarder gewigsafdeling vir ’n wêreldtitel boks, so Noni Tenge moet ’n bietjie gewig aansit.

Noni Tenge is besig om in Gqeberha vir een van die belangrikste boksgeveg van haar loopbaan voor te berei. Foto: Willemien Green

Aangesien eet een van die dinge is wat sy die meeste in die lewe geniet, behoort dit nie ’n probleem te wees om ’n kilogram of wat op te tel nie.

“Wat eet jy graag, Noni?”

Ons is in die Pride Academy in Gqeberha (Port Elizabeth) waar Tenge (39) voorberei vir haar komende geveg teen Ema Kozin van Slowenië.

Om ons is verskeie ander boksers – meestal amateurs – besig om slaansakke, handskerms en mekaar te moker. ’n Paar MMA-vegters is ook besig om op ’n mat rond te rol. In ’n hoek klouter ’n seuntjie soos ’n opgewonde blouapie teen ’n tou op.

“Steerburgers en tjips!” antwoord Nicky Erasmus, Tenge se afrigter, namens haar.

Noni Tenge by haar afrigter, Nicky Erasmus (links), en hulpafrigter, Ivan Strydom. Foto: Willemien Green

Tenge lag. Sy is ’n mooi vrou wat meer na ’n danser as ’n bokser lyk.

“Ek eet baie. Joh! Ek eet baie! Ek is lief vir hamburgers en skyfies en roomys. Maar ek kan nie té veel eet nie, want dan begin my neus bloei. My neus bloei wanneer ek sekere soorte kos eet. Ek probeer om nie te veel sterk gegeurde kos te eet nie, want dan bloei my neus. Dis al van kleintyd so.”

Kleintyd het sy alle soorte sport probeer doen daar in Mdantsane, waar sy grootgeword het.

“Jy weet, wanneer jy klein is, doen jy alles. Jy weet mos dan nog nie wat jou ver kan vat nie. Ek het netbal gespeel, ek was ’n atleet, ek het sokker gespeel, rugby, alles. Ek was die beste met baie goed. Ek was soos Caster (Semenya), ek was ’n baie goeie atleet,” onthou Tenge.

Toe begin haar een broer boks en hy het ook van die kinders begin afrig. Natuurlik het Tenge ook die handskoene aangetrek.

“Dit was net ’n stokperdjie. Maar toe sien ek Muhammad Ali se dogter Layla in 2001 boks (op televisie) en ek besef maar vroue kan ook vir ’n lewe boks. Dit het my baie opgewonde gemaak en ek het meer tyd aan boks begin bestee,” vertel Tenge.

Noni Tenge op die aanval teen Daniella Smith in een van haar vorige gevegte. Foto: Gallo Images

Voordat Layla Ali haar betower het, het sy al ’n ander bokser bewonder.

“Die Wit Buffel (Francois Botha). Hy was my beste bokser. Hy was baie nederig en hy het sy eie ding gedoen en hy was ’n wêreldkampioen, so ek het na hom opgekyk.”

Sy het 24 amateurgevegte gehad waarvan sy almal gewen het en toe, in 2007, toe sy 25 jaar oud was, het sy vir geld begin boks.

Dinge het goed gegaan en sy het in 2009 die Wêreldboksfederasie (WBF) se weltergewigkampioen geword. Sy het die titel drie keer verdedig voordat sy na die super-weltergewigafdeling opgeskuif en teen Layla McCarter van Amerika vir die Wêreldboksvereniging (WBV) se vakante titel te staan gekom het.

Die twee vroue het mekaar in Oos-Londen se Orient-arena gepak. McCarter het met ’n tegniese uitklophou in die agtste ronde gewen. Dis steeds die enigste nederlaag op Tenge se rekord.

“Sy was nie my taaiste teenstander nie. Ek was voor op punte. Sy was meer ervare as ek en sy het geweet sy het ’n uitklophou nodig om te wen. In plaas van om van haar af weg te bly, het ek steeds vorentoe gegaan en my in haar houe vasgeloop,” vertel Tenge.

Volgens Tenge het Clotilde Essiane van Kameroen harder geslaan as McCarter. Tenge en Essiane het in 2007 in Tenge se tweede beroepsgeveg gelykop teen mekaar geboks.

Hulle het later, in 2010, weer kragte gemeet en toe het Tenge met punte gewen.

Byna 11 jaar later en ’n paar titels later is Tenge steeds aan die boks. Wat dryf haar?

“Ek is baie ambisieus. Dis my droom om vir die Wêreldboksraad (WBR) se titel te baklei. Dis vir my die belangrikste titel wat daar is. Daar is nie nou tyd vir persoonlike verhoudings nie, ek wil die titel wen,” sê Tenge, wat ook as private afrigter by ’n gimnasium werk.

“Ek help my familie onderhou, so dis ook vir my ’n groot aanmoediging,” sê sy. Sy wil dus nog ’n paar groot betaaldae verdien voordat sy uittree.

Haar geveg in Junie teen Kozin sal vir die WBR, WBV en WBF se middelgewigtitel wees. Die geveg sal in Duitsland of Slowenië plaasvind.

Dit sal Tenge se eerste geveg oorsee wees.

“Ek was nog nooit oorsee nie, maar dit pla my nie. As daar toeskouers gaan wees, pla dit my ook nie. Hulle kan maar skree soveel as wat hulle wil, hulle kan nie saam met hul bokser teen my in die kryt klim nie,” sê Tenge.

Ons praat oor haar bynaam. Of liewer byname.

Een van hulle is die treffende “She Bee Stingin”. Maar sy verkies “Pretty Girl”, gee sy laggend toe.

Pretty Girl, pretty punches,” skater Tenge, “ek slaan so hard soos ’n man!”

Meer oor:  Layla Ali  |  Noni Tenge  |  Boks  |  Wêreldboksvereniging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.