Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Protea Maryka kondig haar uittrede aan
Maryka Holtzhausen onder die doelpaal tydens verlede maand se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Foto: Gallo Images

Die Protea-netbalspeler Maryka Holtzhausen het ná 12 jaar en 116 internasionale toetse besluit om halt te roep.

Holtzhausen, een van net drie Suid-Afrikaners wat meer as 100 keer vir die Proteas gespeel het (saam met Erin Burger en Bongi Msomi) het haar uittrede uit netbal Dinsdag op Instagram aangekondig.

“Die 8-jarige ek het gedroom van speel met ’n bal, die GA-beffie dra, haar vriende sien en pret hê. Waarvan die 8-jarige ek nooit gedroom het nie, was: 12 jaar van internasionale netbal, 116 internasionale toetse, 3 Statebondspele, 3 Wêreldbekers, eindelose herinneringe, lewenslange vriende, hope lewenslesse, tonne pret en ’n oorvloed genade,” het die 32-jarige doelskieter geskryf.

“Noudat ek die einde van my netballoopbaan bereik het, kan ek nie glo die 8-jarige ek het soveel meer gekry as waarvan sy gedroom het nie. Dit was alles guns op guns.”

Holtzhausen het as 20-jarige haar debuut vir die Proteas in Julie 2007 gemaak. Op die vooraand van haar 100ste wedstryd in November verlede jaar het sy volgens Netbal Suid-Afrika gesê sy onthou twee dinge van daardie wedstryd in Polokwane, waarin sy ’n doelgemiddelde van 96% teen Malawi behaal het.

Tweedens onthou ek die trots en die trane terwyl ek die volkslied gesing het. Dis ’n gevoel wat ek aan niemand kan verduidelik nie.
Maryke Holtzhausen

“Wanneer ek dink aan my eerste toets onthou ek twee dinge baie helder. My ouers het opgery van Kempton Park en teen die tyd dat ons op die baan gestap het, was hulle nog nie daar nie. En tweedens onthou ek die trots en die trane terwyl ek die volkslied gesing het. Dis ’n gevoel wat ek aan niemand kan verduidelik nie.”

Kort ná haar debuut moes Holtzhausen ’n groot teleurstelling oorkom toe sy nie vir daardie jaar se Wêreldbekerspan gekies is nie. Nadat sy egter haar terugkeer gemaak het, was dit net beserings wat haar uit die span gehou het. In 2013 het sy die Protea-kaptein geword en dit gebly tot in 2016.

Sy het in 2015 die eerste Suid-Afrikaanse speler geword wat haar by ’n buitelandse beroepspan aangesluit het, by Loughborough Lightning in Engeland, en het verlede jaar en vanjaar vir ’n ander Engelse span, die Severn Stars, gespeel.

Dit was uiteindelik ook teen Engeland se nasionale span wat Holtzhausen verlede maand in haar derde WB-toernooi vir die laaste keer die groen en goud gedra het.

Meer oor:  Maryke Holtzhausen  |  Pretoria  |  Netbal  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.