Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas het 1 hand op die Afrikabeker

Die Suid-Afrikaanse netbalspan het sy een hand op die Afrikabeker met nog net een wedstryd wat voorlê.

Die Proteas het Maandag hul vyfde oorwinning in die Afrikabeker-toernooi behaal, wat Dinsdag in Bellville klaarmaak.

Sigi Burger wen Maandag balbesit vir Suid-Afrika. Links is Parin Simiyu en Lucy Akumu van Kenia. Foto: Jaco Marais

Hulle is die enigste onoorwonne span en boaan die puntelys met tien punte. Hul groot oorwinning van 71-36 oor Kenia vertel nie die volle verhaal van die geesdrif en goeie spel wat die Oos-Afrikane opgedis het nie.

Dit bly moeilik om teen Afrika-spanne te speel wat ’n eie, unieke speelstyl het.

Die ses wedstryde in di é toernooi sal waardevol wees vir Dorette Badenhorst, die nuwe SA afrigter, om Suid-Afrika se diepte te bepaal en te weet watter kombinasies werk.

Zanele Vimbela, die kaptein teen Kenia, sê die telling weerspieël nie hoe taai die wedstryd was nie.

“Die spanne verbeter baie soos die toernooi vorder.”

Romé Dreyer, die Protea-senter, wen Maandag balbesit vir haar span in die netbaltoets teen Kenia. Agter haar is Precious Mthembu. Foto: Jaco Marais

Suid-Afrika speel Dinsdag sy laaste wedstryd teen Zambië, wat 15de op die wêreldranglys is.

Vimbela, die hoofverdediger, sê die Proteas het ’n moeilike week agter die rug en die lywe is seer.

Hulle het al voorverlede Sondag in die Moederstad gearriveer.

“Ons moet voortbou op ons goeie vertonings, sorg dat ons bestendig bly en kort, vinnige aangeë gee,” sê Vimbela oor die stryd teen die Zambiërs.

Die doel Sigi Burger het kans gekry om saam met Lefébre Rademan (hulpdoel) te speel, met Khanyisa Chawane op aanvallende vleuel en Romé Dreyer op senter.

Precious Mthembu was die verdedigende vleuel en Monique Reyneke die hulpdoelverdediger met Vimbela die hoofverdediger.

Dreyer het later ook kans op aanvallende vleuel gekry.

Suid-Afrika het na die eerste kwart met 20-9 voorgeloop en met die rustyd met 36-20. Hy het in die derde en vierde kwarte onderskeidelik 17 en 18 doele bygevoeg, al is die span ietwat verander.

Vimbela (30) sê dit is belangrik dat die nasionale span kans kry om in al die provinsies te speel, want dit is hoe die spel landwyd verbeter.

“Ons moet seker maak ons werk hard. Want alles wat ons doen, het ten doel om die sport te laat groei sodat dit ’n beroepsport kan word,” sê Vimbela.

* Malawi, wat sewende op die wêreldranglys is, het Maandag verras en Uganda (6de) met 49-45 geklop.

Dinsdag se program: 10:00: Lesotho t. Zambië; 12:00: Zimbabwe t. Malawi; 14:00: Uganda t. Kenia; 16:00: Suid-Afrika t. Zambië.

Meer oor:  Netbal  |  Afrikabeker  |  Kenia  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.