Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas maak netbal-geskiedenis

Super-super-Sondag!

Terwyl Suid-Afrikaanse sportliefhebbers se afstandbeheerders oortyd gewerk het, het Suid-Afrika se netbalspan ’n geskiedkundige oorwinning oor Jamaika behaal.

Erin Burger omhels vir Lenize Potgieter nadat Suid-Afrika Sondag vir Jamaika in hul laaste groepwedstryd geklop het.Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Die Proteas se drome van glorie in die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland, is baie, baie lewend nadat hulle die Sunshine Girls in hul laaste, dramatiese groepwedstryd met 55-52 geklop het.

Jamaika is tweede op die wêreldranglys. Dit is net die Proteas se derde oorwinning ooit oor die Sunshine Girls.

Suid-Afrika kon laas in 2012 in Kingston, Jamaika, met die Jamaikane afreken. Die telling was toe 56-49.

Die eilandvroue het nog in verlede jaar se Statebondspele in die Goudkus met elf doele met die Proteas afgereken – 57-46.

Maryka Holtzhausen (middel) en haar spanmaats vorm ’n kringetjie ná hul puik oorwinning. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Sondag se titaniese, spannende wedstryd was die beste nóg in vanjaar se toernooi.

Suid-Afrika het met die oorwinning eerste in Groep C geëindig.

Die Proteas het Fidji Saterdag met 90-35 geklop en Trinidad en Tobago Vrydag met 76-45.

Lenize Potgieter, Suid-Afrika se hoofdoel, rank hoog om balbesit te verseker. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Die toernooi beweeg nou na ’n tweede groepfase, waar Suid-Afrika Maandag om 18:25 teen Skotland te staan sal kom.

Die voorste drie spanne in Groepe C en D vorm nou Groep G. Dit beteken die Proteas pak Skotland, Uganda en Engeland.

Hulle neem hul punte wat hulle teen Fidji en Jamaika verdien het, saam na die volgende ronde.

Die Proteas het die oorwinning beklink omdat hulle vanaf die staanspoor voorgeloop het.

Hulle was na die eerste kwart met 16-9 voor voordat die Sunshine Girls nog tot verhaal kon kom.

Suid-Afrika het na ’n puik tweede kwart met 32-21 voorgeloop en ’n luidrugtige vuvuzela het in die arena weerklink.

Jamaika het teruggeveg en in die derde kwart 17 doele teenoor 10 opgestapel, maar Suid-Afrika was steeds voor met 42-38.

Die Suid-Afrikaners het in die laaste kwart senuwees van staal getoon en die eilandvroue se aanslag afgeweer.

Lenize Potgieter (doel) het 36 uit 39 doelpogings gesink vir ’n gemiddeld van 92,3%. Maryka Holtzhausen (hulpdoel se gemiddeld van 65,5% vertel nie die volle verhaal van haar ondersteunende spel nie.

* Australië het Sondag byna ’n honderdtal teen Sri Lanka behaal (99-24) en Nieu-Seeland het maklik met 89-21 met Singapoer afgereken. Die Engelse Rose het Samoa met 90-24 afgeransel.

Maandag se program: 10:00: Zimbabwe t. Nieu-Seeland; 10:25: Malawi t. Noord-Ierland; 12:00: Australië t. Barbados; 12:25: Sri Lanka t. Singapoer; 14:00: Engeland t. Jamaika; 16:25: Fidji t. Samoa; 18:00: Trinidad en Tobago t. Uganda; 18:25: Suid-Afrika t. Skotland.

Meer oor:  Netbal  |  Suid-Afrika  |  Jamaika  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.