Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas pak Engelse Rose om brons

Engeland se drome van ’n wêreldkroon is verpletter.

’n Emosionele Natalie Panagarry, Natalie Haythornthwaite en Helen Housby nadat hul Engelse span teen Nieu-Seeland verloor het. Foto: Reuters

Dié Statebondkampioen het geglo hy kan vanjaar in die Wêreldbeker-toernooi op tuisbodem glorie smaak.

Nieu-Seeland se Silwervarings het egter hul eie draaiboek vir die toernooi in Liverpool, wat Sondag ten einde loop.

Die Kiwi’s het Saterdagmiddag in die tweede riller van ’n halfeindstryd met twee doele geseëvier.

Net soos Australië ook vroeër met twee doele teen Suid-Afrika gewen het.

Maria Folau wen ’n bal op die punte van haar vingers teen Eboni Usoro-Brown van Nieu-Seeland in Saterdag se halfeindstryd in die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Reuters

Die Kiwi’s het die Engelse Rose met 47-45 geklop in ’n opwindende, spannende, fisieke kragmeting.

Dit is die WB-halfeindronde met die kleinste doeleverskil tot nog toe.

Die Silwervarings het agt spelers teen hulle gehad met fanatiese Engelse ondersteuners bankvas en luidrugtig agter hul span.

Hulle het hulle nie laat onderkry nie en ná die eerste kwart met 12-9 voorgeloop, maar die tuisspan het ’n puik tweede kwart gespeel en 15 doele teenoor 9 aangeteken om met 24-21 voor te loop.

’n Teleurgestelde Chelsea Pitman, aanvallende vleuel van Engeland. Foto: Getty Images

Toe was dit weer Nieu-Seeland se beurt (36-33) voordat die laaste frenetiese 15 minute aangebreek het.

Met vier minute oor was die Kiwi’s met 43-40 voor, maar soos vir Suid-Afrika, het die horlosie ook vir die Rose uitgeloop.

Ameliaranne Ekenasio was puik op hulpdoel, maar genugtig, wat kan ’n mens nog oor Maria Folau skryf? Sy is ’n gebore wedstrydwenner.

Die 32-jarige doel het weer haar kritici stil gespeel. Sy is Donderdag op sosiale media verguis nadat sy Donderdag met ’n potensiële wendoel teen Australië misluk het.

Sy en Ekenasio het egter uitgeblink onder kwaai druk van onder meer Geva Mentor, een van die wêreld se beste verdedigers.

Folau het in haar 145stse toets gespeel om Irene van Dyk se rekord te ewenaar.

Engeland was op soek na ’n plek in die eindstryd om afskeid te neem van hul afrigter, Tracey Neville, wat Sondag die sport vir eers groet om met ’n gesin te begin.

Dit is egter Noeline Taurua, die Kiwi-breier, wat Saterdagaand die lekkerste sal slaap.

Die uitslag beteken die Proteas sal Sondag teen ’n gewonde Engelse span te staan kom in die stryd om die bronsmedalje.

* TV: Sondag 15:30 (uitspeelstryd) en 17:45 (eindstryd)(SS 10).

Meer oor:  Liverpool  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Engeland  |  Netbal  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.