Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas vaar goed, sê De Bruin

Al het jy ’n ander land jou huis gemaak, sal jy altyd ’n sagte plekkie in jou hart hê vir jou geboorteland.

Só sê die voormalige Suid-Afrikaanse en Nieu-Seelandse netbalspeler Leana de Bruin.

“As ek die Suid-Afrikaanse volkslied hoor, kry ek steeds hoendervel. Dit bly spesiaal, maak nie saak of ek al 18 jaar hier (in Nieu-Seeland) is nie.

“Dit (Suid-Afrika) is waar ek gebore is en dit is die taal wat ek praat.”

Lede van die Northern Stars gee verlede maand applous vir hul kaptein, Leana de Bruin. Die Premierliga-eindstryd teen die Pulse was haar laaste netbalwedstryd. Die Pulse het met 52-48 gewen. Foto: Getty Images

Die 42-jarige verdediger het 34 toetse vir Suid-Afrika en 138 vir die Kiwi’s gespeel. Sy het in Augustus 2016 uit internasionale netbal getree en Junie vanjaar was haar laaste wedstryd vir die Nieu-Seelandse streekspan, die Northern Stars.

De Bruin sal die volgende paar dae ateljee-ontledings doen van Wêreldbeker-wedstryde vir die Nieu-Seelandse uitsaaier Sky Sport.

Sy sê sy is opgewonde dat die Proteas eindelik goed vaar, want sy weet hoe hard hulle werk.

“Ek het nog baie bande met van die SA spelers. Ek gesels gereeld met Bongiwe, Lenize, Karla en Erin.

As ek die Suid-Afrikaanse volkslied hoor, kry ek steeds hoendervel.

“Hulle het nie die helfte van die ondersteuning wat ons, Australië of selfs nou Engeland het nie. Hulle het wel nou een van die beste afrigters in die wêreld.

“Al hoe meer Proteas gaan nou deur oorsese spanne raakgesien word.”

Sy sê die Proteas het nou ná hul goeie oorwinning oor Jamaika onder druk gespeel en weet hoe dit voel. “Hulle het onder druk dinge uitgevoer wat ek hulle nog nooit sien doen het nie,” sê De Bruin.

Suid-Afrika speel Donderdag teen Engeland en die stryd sal bepaal of hy Nieu-Seeland of Australië in die halfeindronde pak.

Die twee aartsvyande speel Donderdagoggend.

Al hoe meer Proteas gaan nou deur oorsese spanne raakgesien word.

De Bruin sê die Kiwi’s het nog nie soveel druk ervaar nie en gemaklike oorwinnings behaal.

“Daar is nou meer ervaring in die Kiwi-span as met die Statebondspele.”

Nieu-Seeland het ná ’n teleurstellende veldtog vierde geëindig en Noeline Taurua het die afrigting oorgeneem.

De Bruin sê sy kan sien die spankultuur is nou anders en weet hulle is almal baie fiks.

Sy sê die Kiwi’s is op ’n missie. “Talle spelers het hul terugkeer gemaak om vir een laaste keer te probeer wen.”

Nie een van die huidige Kiwi’s was in 2003 se span toe Nieu-Seeland laas die wêreldbeker gewen het nie.

“Ek weet wat Donderdag in Laura (Langman, die kaptein) se kop sal wees.

“Ek onthou ons het in 2015 se WB-toernooi Australië in ’n groepwedstryd met 52-47 geklop en ek en Laura het vir mekaar gesê ons het nou die verkeerde wedstryd gewen.”

Die Kiwi’s het eindelik die eindstryd teen die Aussies verloor.

De Bruin gaan haar nou op afrigting toespits en sê sy sal graag in 2023 se WB-toernooi ’n span wil afrig.

* De Bruin het in 2015 se WB-toernooi haar 100ste toets vir Nieu-Seeland gespeel – net die vyfde Kiwi wat dit vermag. Sy is net een van ’n handvol wat aan vyf WB-toernooie deelgeneem het – in 1999 vir Suid-Afrika en in 2003, 2007, 2011 en 2015 vir die Silwervarings. Sy het ook in 2006, 2010 en 2014 aan die Statebondspele deelgeneem.

* De Bruin en haar seun, Caleb, woon in Cambridge, Waikato. Haar ouers, Thinus en Hannatjie du Plooy, woon in Moorreesburg in die Wes-Kaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.