Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas vee Karibiese vroue van baan
Die veteraan Erin Burger wen Vrydag balbesit vir Suid-Afrika in sy eerste Wêreldbeker-netbalwedstryd teen Trinidad en Tobago in Liverpool, Engeland. Die 15de toernooi het Vrydag daar begin.Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Is dit dalk Januarie 2019 en nie Julie nie?

Die Suid-Afrikaanse netbalspan het Vrydag in sy eerste Wêreldbeker-wedstryd in Liverpool, Engeland, net voortgegaan waar hy in Januarie se Vierhoekige reeks opgehou het.

Die samespel in sy eerste WB-wedstryd was skitterend vir spelers wat die afgelope ses maande netbal in Suid-Afrika, Engeland, Nieu-Seeland en Australië gespeel het.

Die Proteas het hul medalje-jagtog op ’n puik wennoot afgeskop met ’n oortuigende oorwinning van 76-45 oor Trinidad en Tobago.

Verlede week se losmakertjies teen Wallis tel nie juis as mededingende wedstryde nie. Die Walliese vroue neem nié deel aan dié WB-toernooi nie.

Noudat Trinidad se “Calypso Girls” uit die pad gerol is, wag Fidji se “Pearls” Saterdag en dan Sondag die groot gevaar in Groep C, Jamaika.

Die Jamaikane het Fidji Vrydag maklik met 85-29 geklop en die Suid-Afrikaners sal ook geen probleme teen dié span hê nie.

Die “Sunshine Girls” van Jamaika sal ’n taaier toffie wees, want die eilandvroue is tweede op die wêreldranglys.

Bongiwe Msomi het in die senterbaan ’n ware kapteinsbeurt vir Suid-Afrika gespeel. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Lenize Potgieter (doel) en Maryka Holtzhausen (hulpdoel) het soos altyd puik gekombineer in die doelsirkel, terwyl Bongiwe Msomi (aanvallende vleuel) sterk gedryf het.

Suid-Afrika het na die eerste kwart met 19-15 voorgeloop en met die rustyd gerieflik met 40-26. Na die derde kwart het die telbord gelees 56-34.

Die Proteas het alle kwarte en alle gebiede van die spel oorheers en die pluspunt is dat al 12 spelers in die groep speelkans gekry het, om die eerste vlinders in die maag te laat bedaar.

Norma Plummer, die SA afrigter, het agterna gesê sy sal kyk om haar beginspan te verander, nadat sy Vrydag met haar sterkste sewetal begin het.

Potgieter het net een doelpoging gemis en is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Die span se doelgemiddeld was 92% teenoor Trinidad se 88%.

Daar was geen verrassings op die eerste dag nie. Australië, die verdedigende kampioen, het Noord-Ierland met 88-24 geklop en Nieu-Seeland het sy veldtog het afgeskop met ’n oorwinning van 64-45 oor Malawi.

Perpetua Siyachitema van Zimbabwe (links) en Sri Lanka se Nauchalee Rajapakse veg om balbesit.Foto: AP

Suid-Afrika se buurvroue, Zimbabwe, het baie ondersteuning geniet in hul WB-debuut. Hy het Sri Lanka met 79-49 afgeransel.

Uganda is die vierde Afrika-span wat gekwalifiseer het.

* Die Brit Liz Nicholl is Woensdag as nuwe president van die Internasionale Netbalfederasie (INF) verkies.

Sy was in haar loopbaan onder meer die uitvoerende hoof van Engeland Netbal, en meer onlangs die uitvoerende hoof van Britse Sport.

Nicholl volg Molly Rhone op, wie se termyn aan die einde van die toernooi verstryk.

Saterdag se program:

 10:00: Australië t. Zimbabwe; 12:00: Nieu-Seeland t. Barbados; 10:25: Noord-Ierland t. Sri Lanka; 12:25: Malawi t. Singapoer; 16:00: Engeland t. Skotland; 18:00: Jamaika t. Trinidad en Tobago; 16:25: Uganda t. Samoa; 18:25: Suid-Afrika t. Fidji.

* Al die wedstryde is regstreeks op SS 10 en SS 11.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.