Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas verbeter wéér doelerekord

Die rekordboeke is twee keer in die reeks herskryf en die telbord wys 3-0.

Welgedaan, Proteas!

Shadine van der Merwe soek aansluiting by ’n spanmaat. Links is Jessie Mazengera. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se netbalspan het Sondag die derde toets teen Malawi by Sun City met 69-28 gewen om die reeks met 3-0 te beklink. Hy het óók die rekord verbeter vir die oorwinning met die grootste doeleverskil teen die African Queens.

Die vorige grootste sege oor die Malawiërs was Vrydagaand s’n toe die Proteas met 40 doele geseëvier het (65-25).

Sondag se kwarttellings was 14-9, 36-16 en 56-20.

Dorette Badenhorst, die SA afrigter, het vooraf gevra vir ’n groep van 15 spelers en elkeen het hul kans met albei hande aangegryp.

Vier nuwelinge het hul debuut gemaak en die toekoms lyk blink.

Lenize Potgieter van Suid-Afrika en Malawi se Towera Vinkhumbo stoei om balbesit met die doelpaal tussen hulle in Sondag se derde netbaltoets in die Superbowl by Sun City. Foto: Gallo Images

Diepte word nie oornag gebou nie, maar dinge lyk ná die reeks meer rooskleurig op doel en hulpdoel en op hulpdoel-verdediger en hoofverdediger.

Shadine van der Merwe, gewoonlik die verdedigende vleuel, het die groot taak gehad om die beseerde Karla Pretorius se skoene op hulpdoel-verdediger vol te staan en ’n nuwe kombinasie te slyp met Phumza Maweni (hoofverdediger).

Sy is glad nie van stryk af gebring nie en het skitterspel opgedis. Soveel so dat sy as die Speler van die Wedstryd en die Speler van die Reeks aangewys is.

Monique Reyneke het ook kans gekry om aan haar spel op hulpdoel-verdediger en hoofverdediger te skaaf.

Die samespel tussen Lenize Potgieter (doel) en Lefébre Rademan (hulpdoel) groei met elke wedstryd.

Potgieter het in die reeks gewys sy het ook potensiaal op hulpdoel, dit moet net ontgin word.

Sigi Burger, Ine-Marí Venter en Kamogelo Maseko staan ná hulle in die ry, maar dit is belangrik dat hulle moeiteloos moet kan inskakel.

Bongiwe Msomi (middel), die SA kaptein, hou die trofee vas terwyl haar span oor hul reekssege juig. Foto: Gallo Images

Badenhorst sê sy is bly meer spelers kon meer geleenthede kry en só selfvertroue opbou.

Suid-Afrika het heelwat aanvallende vleuels, maar meer diepte is nog nodig in die senterposisie.

Potgieter is as die voorste doelskieter aangewys en Khanyisa Chawane was die beste senterbaanspeler.

Maweni was die beste verdediger.

Met nr. 6 op die wêreldranglys nou uit die pad gerol, moet die Proteas dieselfde doen met Uganda, nr. 7.

Hulle pak mekaar in Januarie, waarskynlik in Suid-Afrika.

Meer oor:  Netbal  |  Proteas  |  Malawi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.