Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas wen ver; ware toets kom nou

Ná net twee wedstryde is Suid-Afrika se netbalspan reeds by ’n kruispad in sy Wêreldbeker-toernooi.

Die Proteas kom vandag in hul derde groepwedstryd in Liverpool, Engeland, teen Jamaika te staan.

Hulle het in Groep C reeds twee eilandspanne uit die pad gevee, maar die Sunshine Girls van Jamaika is ’n veel taaier toffie.

Suid-Afrika en die Karibiese vroue kruis om 18:00 swaarde in wat beloof om ’n witwarm stryd te wees.

Die bal is myne! Die Proteas se Lenize Potgieter strek gister teen Fidji om haar hande eerste op die bal te kry. Foto: gallo

Bongiwe Msomi, die SA kaptein, en haar span het Fidji gisteraand met 90-35 afgeransel vir die grootste oorwinning nóg in vanjaar se toernooi.

Die Suid-Afrikaners het hul WB-toernooi Vrydagaand met ’n oortuigende oorwinning van 76-45 oor Trinidad en Tobago begin.

Gister was Msomi se 100ste toets vir die Proteas, maar sy was nie lank op die baan nie, met verskillende kombinasies wat uitgetoets is.

As Msomi-hulle medalje-drome koester, sal hulle Jamaika moet klop.

Die Sunshine Girls loop egter oor van selfvertroue nadat hulle verlede maand as die naasbeste span aangewys is toe die jongste wêreldranglys verskyn het.

Dit is hul hoogste posisie sedert die ranglys in 2008 begin is.

Hulle het die Proteas boonop by verlede jaar se Statebondspele met 11 doele geklop – 57-46 – en voortgegaan om die bronsmedalje te wen.

As Suid-Afrika daarin slaag om Jamaika te klop, is sy pad na Saterdag se halfeindronde baie makliker.

Die Internasionale Netbalfederasie (INF) het ’n nuwe formaat vir vanjaar se WB-toernooi opgestel met ’n tweede groepfase wat Maandag begin.

Sestien spanne ding aanvanklik mee in vier groepe. Die voorste drie spanne in elke groep vorder daarna na die tweede groepfase. Die top-drie spanne van Groepe A en B vorm Groep F en die voorste drie in Groepe C en D vorm Groep D.

Dit beteken die Proteas se volgende teenstanders is waarskynlik Engeland, Uganda en Skotland. Punte wat behaal is, word oorgedra.

  • Vandag se program:

10:00: Nieu-Seeland t. Singapoer; 10:25: Malawi t. Barbados; 12:00: Engeland t. Samoa; 12:25: Uganda t. Skotland; 16:00: Australië t. Sri Lanka; 16:25: Noord-Ierland t. Zimbabwe; 18:00: SA t. Jamaika; 18:25: Fidji t. Trinidad en Tobago.

Meer oor:  Netbal  |  Netbalspan  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.