Die Suid-Afrikaanse vrouehokkiespan vir die Afrikabeker-toernooi verskil nie veel van die een wat gemengde welslae in die FIH-eindtoernooi in Valencia, Spanje, behaal het nie.
Die Proteas is daar ná ’n goeie begin teleurstellend in die halfeindronde uitgeskakel.

Daar was nie plek vir Antonet Louw in die voorlopige Protea-hokkiegroep, wat vir die Afrikabeker-toernooi in Stellenbosch gekies is nie. Foto: Varsity Hockey
Stephanie Baxter is die enigste speler van die groep van 18 wat in Spanje was, wat nie in Augustus teen die room van Afrika se spelers in aksie sal wees nie.
Die nuwe groep van 20 sal volgens sahockey.co.za later weer tot 18 uitgedun word vir die toernooi om die Afrikabeker, wat van 12 tot 18 Augustus in Stellenbosch gehou word.
Sylvia van Jaarsveld, Tegan Fourie en Onthathile Zulu is die spelers in die groep wat nie in Valencia was nie. Zulu kan moontlik haar internasionale buiging maak.
“Ons groep is baie dieselfde as die een in Spanje omdat ons wil voortbou op die prosesse wat ons daar in plek gesit het,” sê Rob van Ginkel, die span se afrigter.
“Daar is steeds ’n goeie mengsel van jeug en ervaring, wat die jonger spelers sal toelaat om te ontwikkel.”
Nege spelers in die groep het minder as 10 toetse gespeel.
Daar is egter steeds nie plek vir ’n dodelike doelskieter soos Antonet Louw, wat in die Varsitybeker- én Ussa-toernooi die meeste doele aangeteken het nie.
Van Ginkel sê die “keurpaneel sal altyd spelpeil en kondisionering as prioriteit oorweeg” en het bevestig dat Louw dalk in die toekoms betrek kan word.
Ditto vir Simoné Gouws, wat ná die Wêreldbeker-toernooi in Londen verlede jaar in Duitsland beseer is, maar vanjaar weer haar terugkeer tot die spel gemaak het.
Suid-Afrika, sesmalige verdedigende kampioen, speel in sy eerste wedstryd op 12 Augustus teen Nigerië. Kenia is die ander span die gasheer se groep.
Die eerste wedstryd teen Nigerië sal die Proteas se kaptein, Erin Hunter, se 50ste vir haar land wees.
SA groep: Erin Hunter (k, SG), Phumi Mbande (Noordelikes), Quanita Bobbs (WP), Kara Botes (SG), Dirkie Chamberlain (NW), Lisa Deetlefs (SG), Lilian du Plessis (SG), Celia Evans (Noordelikes), Tegan Fourie (KZN Raiders), Tarryn Glasby (WP), Robyn Johnson (SG), Marizen Marais (Noordelikes), Mmathshepo Modipane (SG), Kristen Paton (SG), Hannah Pearce (SA o.21), Sylvia van Jaarsveldt (SG), Izelle Verster (Noordelikes), Nikki Veto (SA o.21), Bianca Wood (SA o.21), Onthatile Zulu (Noordelikes).