Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Qhubeka Assos fokus steeds op ‘Afrika-droom’

Die drie skofseges wat die Suid-Afrikaanse Qhubeka Assos-fietsryspan tot dusver in vanjaar se Giro d’Italia behaal het, sal beslis help om ’n titelborg vir 2022 te verseker.

Dit is die mening van Douglas Ryder, spanhoof van Qhubeka Assos, nadat Mauro Schmid (Switserland), Giacomo Nizzolo (Italië) en Victor Campenaerts (België) glorie vir die span verseker het.

Die Belg Victor Campenaerts toe hy Sondag die 15de skof van die Giro d’Italia gewen het. Foto: Reuters

Soos die meeste sportsoorte is fietsry ook verlede jaar hard deur die Covid-19-pandemie getref. Ryder-hulle, wat in 2020 as NTT bekend gestaan het, se voortbestaan was verlede jaar vir ’n tyd in die gedrang.

Assos het toe die titelborg geword, maar dié ooreenkoms verstryk aan die einde van 2021.

“Ons sien nou groot beweging in borgskappe in Formule Een en die Engelse Premiersokkerliga. Dit gee ons hoop,” sê Ryder.

“Ons het tans ’n paar opsies en is ook in gesprekke met ’n aantal organisasies. Die span se onlangse sukses, tesame met die doel van die span en dit waarvoor hy staan, help ons.”

Giacomo Nizzolo, die Europese padkampioen, het glorie vir Qhubeka Assos in die 13de skof van die Giro gebring. Foto: Reuters

Benewens om uit die aard van die saak ’n suksesvolle span te wees wat wedrenne wen, het Qhubeka Assos ook ten doel om mense in Afrika deur middel van fietse te mobiliseer. Die woord “ubuntu”, wat op waardes soos respek, menswaardigheid en meelewing dui, pryk op die span se trui.

Hoewel Qhubeka Assos vanjaar, in teenstelling met ander jare, nie ’n enkele Suid-Afrikaanse ryer in sy span vir die Giro het nie, sê Ryder die span is steeds aan sy Afrika-herkoms getrou.

“Ons het baie van ons ryers van Afrika van verlede jaar ná vanjaar verloor. Ons het baie van ons personeel behou, maar ons ryers van Afrika het aanbeweeg. Ryers sal altyd skuif.

“Ek dink dit is ongelooflik dat ons in staat is om geleenthede aan ons ryers te bied en hulle dan later deur ander beroepspanne opgeraap word. Stefan de Bod, Louis Meintjes, Ryan Gibbons (almal Suid-Afrika) en Amanuel Ghebreigzabhier (Eritrea) is ryers wat almal geleenthede by ander spanne gekry het,” sê Ryder.

“Dit wys dat hulle goed genoeg is om in die Wêreldtoer te wees en daar hoort. So ons is beslis ’n brug vir ryers van Afrika na die res van die wêreld.”

Douglas Ryder, spanhoof van Qhubeka Assos. Foto: Getty Images

Ryder hoop dat Afrika ook by Qhubeka Assos se sukses in vanjaar se Giro kan baat. Dit is die beste wat die span in die Giro vertoon het sedert hy die eerste keer in 2016 daaraan deelgeneem het.

“Ons fokus is steeds op ons Afrika-droom om ’n ryer van die vasteland na die hoogste vlak van wêreldfietsry te neem. Ons sal aanhou om na talent op die vasteland te soek,” sê Ryder.

“Hopelik as ons ’n langtermynvennoot kan verseker, sal ons in staat wees om weer meer op Afrika te fokus sodat ons daardie rou talent kan ontdek en fietsry op die vasteland vorentoe kan neem.”

• Die Giro eindig Sondag in Milaan.

Meer oor:  Qhubeka Assos  |  Douglas Ryder  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.