Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Qhubeka Assos sonder SA geurtjie in Giro
Ryers van Qhubeka Assos in Februarie voor die aanvang van ’n wedren in Spanje. Foto: Getty Images

Die plaaslike Qhubeka Assos-fietsryspan sal die eerste keer sonder ’n enkele Suid-Afrikaanse ryer in sy geledere aan Giro d’Italia deelneem.

Qhubeka Assos het Vrydag sy span vir die Giro, wat op 8 Mei in Torino begin en oor 21 skofte beslis word, aangewys.

Die ervare Italianer Domenico Pozzovivo (38), ’n klimmer, sal die 15de keer aan die Giro deelneem. Hoewel hy nog nooit op die podium gestaan het nie, het hy ses keer tevore onder die voorste tien ryers klaargemaak.

Giacomo Nizzolo, ’n naelryer, is die Europese padkampioen. Die ringkoppe van Qhubeka Assos hoop dat hy ’n skofsege of twee vir hulle kan verseker. Foto: Getty Images

Die res van die span bestaan uit Giacomo Nizzolo (Italië), Max Walscheid (Duitsland), Mauro Schmid (Switserland), Bert-Jan Lindeman (Nederland), Victor Campenaerts (België), Lukasz Wisniowski (Pole) en Kilian Frankiny (Switserland).

Qhubeka Assos sal hoop dat Nizzolo, ’n naelryer en huidige Europese kampioen, ’n skofsege of twee kan verseker.

Nizzolo was in 2015 en 2016 die algehele wenner in die punteafdeling van die Giro, maar kon nog nie tevore ’n skof in die wedren wen nie.

Douglas Ryder, spanhoof van Qhubeka Assos, maak dit in ’n verklaring duidelik dat hulle skofseges in hul visier het.

“Ek weet ons is goed voorberei vir die Giro en ons gaan soontoe met hoop en drome om skofte te wen en taamlik goed in die algehele klassifikasie te eindig.”

Ek weet ons is goed voorberei vir die Giro en ons gaan soontoe met hoop en drome om skofte te wen en taamlik goed in die algehele klassifikasie te eindig.
Douglas Ryder

Qhubeka Assos het in 2016, toe die span nog bekend gestaan het as Dimension Data vir Qhubeka, die eerste keer aan die Giro deelgeneem. Toe was daar vier Suid-Afrikaanse ryers, Jaco Venter, Johann van Zyl, Jay Thomson en Songezo Jim, in die span. Nog ’n ryer van Afrika, Merhawi Kudus (Eritrea), het ook deel van die plaaslike span se aanslag daardie jaar uitgemaak.

Sedertdien het dit in so ’n mate afgeneem dat Louis Meintjes en Amanuel Ghebreigzabhier (Eritrea) in 2020 die enigste ryers van die vasteland was wat in die kleure van NTT (soos Qhubeka Assos toe bekend gestaan het) aan die Giro deelgeneem het.

Ryan Gibbons

’n Hele aantal ryers van Afrika soos Meintjes, Ghebreigzabhier, Ryan Gibbons en Stefan de Bod het die span in 2020 verlaat nadat hulle elders ’n heenkome gevind het.

Dit het beteken dat Reinardt Janse van Rensburg en Nicholas Dlamini die enigste Suid-Afrikaanse ryers is wat vanjaar hul brood en botter by Qhubeka Assos verdien.

Meer oor:  Douglas Ryder  |  Italie  |  Torino  |  Suid-Afrika  |  Giro D'italia  |  Qhubeka Assos  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.