Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Red Bull gee Mercedes bloedneus

’n Sondagmiddag wat die Mercedes-renspan so gou as moontlik wil vergeet, lê agter hulle.

Nie net is Lewis Hamilton sy voorsprong op die Formule Een-kampioenskap se punteleer kwyt nie, maar Mercedes loop boonop nie meer in die spankompetisie voor nie.

Max Verstappen op sy Red Bull-renmotor ná sy sege in die Monaco Grand Prix. Foto: AP

En dit alles oor ’n nagmerrie-naweek in Monaco.

Die Monaco Grand Prix is Sondag gewen deur Max Verstappen (Red Bull), wat nie net vir die eerste keer in Monaco gewen het of op die podium gestaan het nie, maar ook vir die eerste keer in sy loopbaan die voorloper in die kampioenskap is.

Die 23-jarige Verstappen was voor die begin van dié Grand Prix 14 punte agter Hamilton, maar ná sy eerste plek is hy nou op 105 punte met Hamilton, wat slegs sewende kon eindig, vier punte agter hom op 101.

Red Bull (149 punte) is ook voor Mercedes (148) in die vervaardigersafdeling.

As troosprys het Hamilton darem die bonuspunt vir die vinnigste rondte verower om die bloeding ’n bietjie te keer.

“Dit is so spesiaal om hier te kan wen en om die eerste keer ook ’n podiumplek te behaal. Dit was ’n ongelooflike resies,” het Verstappen in sy wennerstoespraak gesê.

“Jy wil altyd hierdie Grand Prix wen. Ek onthou toe ek as tjokker reeds dié resies gevolg het (sy pa Jos was ’n Formule Een-renjaer). Ek is dus baie trots om hier te staan.”

Ferrari se Carlos Sainz was tweede. Sy spanmaat, Charles Leclerc, sou eerste wegspring, maar kon nie op die rooster aantree nie omdat sy Ferrari se dryfas in ’n ongeluk in die laaste rondte van Saterdag se kwalifisering sodanig beskadig is dat die tegnici dit nie betyds kon herstel nie.

Sainz se podiumplek is die Spanjaard se eerste sedert hy hom aan die begin van die seisoen by Ferrari aangesluit het.

Brittanje se Lando Norris (McLaren) wat verlede jaar Sainz se spanmaat was, het vasgebyt om Red Bull se Sergio Perez uit die derde plek te hou.

Sebastian Vettel (Aston Martin) was vyfde en Pierre Gasly (Alpha Tauri) sesde.

Hamilton was briesend nadat hy vroeg aangesê is om bande om te ruil, veral nadat sy spanmaat, Valtteri Bottas, nie uit die kuipe kon kom nie nadat hulle nie sy voorste regterband kon afkry nie.

“Ek verstaan nie julle ouens nie. Ek het my bande gespaar om langer te jaag, maar toe beveel julle my om vroeër bande om te ruil,” het hy geskel. – Reuters

Meer oor:  F1  |  Red Bull  |  Formule Een  |  Monaco Gp  |  Max Verstappen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.