Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Roeispan se Berg-skof nes Engelse sokker

Graeme Solomon en sy spanmaat Adrián Boros het Donderdag spiere gebult op die tweede dag van die Bergrivier-kanomarathon en hul algehele voorsprong tot meer as 10 minute gerek.

Die feit dat dié duo op die kort skof tussen Gouda en Bridgetown (32 km) hul voorsprong met sowat nege minute kon vergroot, wys hoe oorheersend hul vertoning was.

Die internasionale span van Joep van Bakel (voor) en Keith Moule beklee steeds die algehele tweede plek, maar het baie tyd op die tweede skof aan die voorlopers, Graeme Solomon en Adrián Boros, afgestaan. Foto: Gameplan Media | John Hishin

Die internasionale span van Keith Moule (Brittanje) en Joep van Bakel (Nederland) beklee steeds die tweede plek, maar ’n klompie kritieke foute aan die einde van die skof het hulle duur te staan gekom.

Solomon en Boros, ’n Hongaar, se taktiek van meet af aan was baie eenvoudig – roei hard en bewerkstellig so gou moontlik ’n groot voorsprong.

Só gesê en so gedaan.

“Graeme het die pas aangegee deur die stroomversnellings, terwyl ek weer voor geroei het wanneer ons in die kalm water was,” verduidelik Boros hul taktiek .

“Ons wou bitter graag ’n groot voorsprong opbou, want jy weet nooit mooi wat in die laaste twee skofte kan gebeur nie.”

Deelnemers aan die Bergrivier-kanomarathon spring op ’n koue nat dag in die Boland weg vir die tweede skof tussen Goudabrug en Bridgetown.Foto: Gameplan Media | John Hishin

Volgens Solomon het die wedvaart se nuwe spanformaat ’n heel ander dinamika aan die Berg verleen.

“Spanmaats gaan baie stewige bande smee. Jy moet die heeltyd uitkyk vir jou spanmaat en as hy in die moeilikheid is, kan jy nie net eenvoudig aanroei nie – jy moet gaan help.

“Verlede jaar sou ek stilletjies gejuig het as Adrián teëspoed opgetel het, maar nou is dinge heel anders,” sê Solomon.

Volgens Moule was hulle vooraf optimisties dat hulle hul agterstand van 90 sekondes ná die eerste skof sou kon uitwis, maar dinge het oor die laaste 10 km lelik skeefgeloop.

“Dit was bietjie soos Engeland se sokkerspan Woensdagaand – ons het goed begin en toe val alles uitmekaar.”

Moule-hulle het waardevolle tyd verloor toe hy by die Drie Heuwels-keerwal uit sy kano geval en ruk lank moes swem.

“Ek het nog nooit daar probleme ondervind nie, maar ek dink ek het my lyn op die nippertjie verander, wat ’n fout was,” sê die Brit.

Die span van Gavin White en Bartho Visser het wéér derde geëindig en was nogmaals in ’n titaniese stryd met Anders Hart en Jermaine Pietersen gewikkel.

Dié twee spanne was deurgaans kop-aan-kop, maar White-hulle het net-net meer woema gehad in die naelrit na die eindstreep.

Biance Beavitt en Crispin Thompson het hul posisie as die voorste gemengde span verstewig en is ná die eerste twee skofte in die algehele negende plek.

Vrydag se derde skof, is die langste en mees uitdagende een van die wedvaart. Die roeiers spring by Bridgetown weg en eindig 75 km verder in Soutkloof.

Die wedvaart eindig Saterdag by Velddrif aan die Weskus. – Sportredaksie

Meer oor:  Kanovaart  |  Bergrivier-Kanomarathon  |  Roei  |  Graeme Solomon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.