Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Roger breek rekord én internet

Roger Federer het nie net ’n rekord Dinsdagaand gebreek nie, hy het ook die internet tot stilstand gebring.

Roger Federer soen sy trofee nadat hy Dinsdagaand op die Laureus-wêreldsporttoekenningsaand in Monte Carlo as Sportman van die Jaar aangewys is. Prinses Charlene van Monaco en die tennislegende Martina Navratilova klap vir hom hande. Foto: Getty Images

Kort nadat dié Switserse tennismeester met twee pryse by die glansryke Laureus-wêreldsporttoekenningsaand bekroon is, het Laureus se webwerf skielik ophou werk soos derduisende ondersteuners daarop geklik het om oor Federer te lees.

Dié 36-jarige ster is die nuwe rekordhouer vir die meeste Laureus-pryse (ses), nadat hy as die Sportman van die Jaar aangewys is én vir die Terugkeer van die Jaar vereer is.

Dít het gevolg op ’n verstommende 2017-seisoen waartydens hy vriend en vyand verras het deur nie net ten volle van ’n ernstige kniebesering te herstel nie, maar ook die Australiese Ope én Wimbledon te wen. Daarbenewens het hy vyf ander ATP-titels verower.

“Dis ’n groot eer om hier voor julle te staan en dié pryse te wen,” het Federer by die seremonie gesê.

“Die Laureus-stigting doen ongelooflike werk en dít het my geïnspireer om my eie stigting te begin. Miskien sal ek eendag vir my filantropiese werk eerder as my tennisvertonings onthou word.”

Federer het sy “aartsvyand” op die baan, Rafael Nadal, om die Laureus-prys getroef, terwyl Cristiano Ronaldo, Mo Farah, Chris Froome en Lewis Hamilton ook benoemdes was.

Federer het nie van Nadal se prestasies in 2017, toe hy ook twee Grand Slam-titels gewen het, vergeet nie.

“Dankie aan my groot teenstander Rafa. Ek wou spesifiek van hom melding maak. Ons het verlede jaar ’n groot stryd op die baan gehad en danksy hom is ek ’n beter speler.

“Dit kon net sowel hy gewees het wat vanaand hier die pryse ontvang het, want hy’s ’n ongelooflike speler, vriend en sportman.”

Wat die vroue betref, het die legendariese Amerikaanse tennisspeler Serena Williams stof in die oë geskop van Suid-Afrika se ster-atleet Caster Semenya.

Williams is as die Sportvrou van die Jaar aangewys.

Semenya was een van die ses sportvroue wat vir die spogprys benoem is.

Nog ’n tennisspeler, die Spanjaard Garbine Muguruza, was ook ’n benoemde.

Die Amerikaanse naelloper Allyson Felix, die Amerikaanse swemmer Katie Ledecky en die Amerikaanse Alpynse skiër Mikaela Shiffrin was die ander benoemdes.

Williams het verlede jaar op 35-jarige ouderdom haar suster Venus geklop om die Australiese Ope-titel vir die sewende keer te wen – ’n rekord in die Ope-era.

Dit is egter nog belangriker dat dit haar 23ste Grand Slam-titel was en dat sy sodoende verby die Duitse legende Steffi Graf (22) geskuif het.

Williams het ook weer die nommereen-posisie op die wêreldranglys ingeneem.

Sy het in April bekend gemaak sy is swanger en het in September die lewe aan haar eersteling geskenk.

Dit is die vierde keer dat Williams met dié gesogte Laureus-prys vereer is.

Sy het nie die geleentheid bygewoon nie. – ATP Tour, Indian Express

Meer oor:  Laureus  |  Serena Williams  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.