Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Roglic versterk sy houvas op geeltrui
Primož Roglic veg meter vir meter oor die laaste gedeelte van die 17de skof om die geeltrui te behou. Foto: Reuters

Diegene wat die laaste tyd wyd en syd verkondig het dat die Sloweense fietsryer Primož Roglic nie vanjaar die Tour de France gaan wen nie, het Woensdag straks in hul koffie verstik.

Roglic (Jumbo-Visma), draer van die geeltrui, het sy voorsprong vergroot na 57 sekondes bo sy landgenoot Tadej Pogacar (UAE), ná die 17de skof.

Voor dié skof was sy voorsprong 40 sekondes, en daar is sommige wat gevrees het dat sy bene in die laaste week gaan ingee.

Roglic het Woensdag se skof, oor 170 km tussen Grenoble en Méribel, in die tweede plek voltooi. Die Colombiaan Miguel Ángel López (Astana) het die skof gewen in 4 uur, 49 minute en 8 sekondes. Die draer van die geeltrui was 15 sekondes ná hom, gevolg deur Pogacar (+ 30 sek).

Die skof het onder meer bestaan uit twee klimme wat as hors catégorie geklassifiseer is, en is as die moeilikste vanjaar beskou. Met reg ook, die skof het geëindig teen die tweede van die klimme, die Col de la Loze. En daardie laaste klim is nie speletjies nie.

Dit is 21,5 km lank, het ’n gradiënt van 7,8% en is 2 304 m bo seespieël. Dit beteken daar was niks wegkruipplek vir ryers nie, met die verwagting dat iemand soos Pogacar ’n aanslag op die geeltrui sou maak.

Miguel Ángel López vier sy skofoorwinning. Foto: Reuters

Teen die laaste sowat 3 km van die skof het die paar ryers wat nog in die groep oor was, een vir een agtergeraak. López het toe aangeval, met Roglic wat hom nie kon vang nie, maar belangriker nog, kon Pogacar nie sy agterstand verklein nie.

’n Groep van vyf ryers, Julian Alaphilippe (Deceuninck-Quick-Step), Richard Carapaz (Ineos Grenadiers), Lennard Kämna (Bora-Hansgrohe), Gorka Izagirre (Astana) en Dan Martin (Israel Start-Up Nation), het aan die begin van die skof weggebreek. Hulle het tot teen die voet van die eerste klim, Col de la Madeleine, ’n voorsprong van meer as ses minute bo die peloton gehad. Hulle is egter later almal ingekatrol.

Soos meermale al oor die afgelope rapsie meer as twee weke gesien is, was dit Jumbo-Visma wat aanvanklik voor aan die peloton die pas bepaal het. Maar teen daardie eerste klim was dit Bahrain-McLaren wat voor gery het. Die peloton is opgebreek met baie ryers wat nie by die pas kon byhou nie.

Teen die laaste paar kilometer, nadat Bahrain-McLaren die grootste gedeelte van die skof gewerk het om Mikel Landa in ’n posisie te plaas om aan te val, het dit nie so uitgewerk nie. Want Landa se bene was oor daardie laaste paar kilometer daarmee heen.

Maar Roglic se spanmaats verdien lof, veral Sepp Kuss wat tot omtrent reg aan die einde aan sy sy was.

Lopez is nou algeheel in die derde plek, 1 minuut en 26 sekondes ná Roglic.

Suid-Afrika se Daryl Impey (Mitchelton-Scott) is algeheel 98ste en Ryan Gibbons 122ste.

Die plaaslike NTT is steeds 20ste in die spankompetisie.

• Die 18de skof word Donderdag oor 175 km tussen Méribel en La Roche-sur-Foron beslis.


 
Meer oor:  Primož Roglic  |  Miguel Ángel López  |  Slowenie  |  Vae  |  Tour De France  |  Geeltrui  |  Fietsry  |  17De Skof  |  Klimme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.