Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Russell en Bottas albei onskuldig

Die skrikwekkende ongeluk tussen Mercedes se Valtteri Bottas en Williams se George Russell in Sondag se Emilia Romagna Grand Prix op Imola gaan nie enige nagevolge vir die twee jaers inhou nie, maar die twee gaan nie sommer gou ’n vriendskaplike biertjie saam geniet nie.

Die twee se motors het op volspoed in die 34ste rondte van die ren gebots en is van die baan geslinger, met wrakstukke wat oor die baan besaai gelê het.

Die Fin Valtteri Bottas se Mercedes verlaat die baan in Sondag se Grand Prix op Imola voordat die teëspoed getref het. Foto: Getty Images

Albei jaers het ongedeerd uit die wrakke geklim, maar beamptes was genoop om die rooi vlag te vertoon, wat die ren tydelik tot ’n einde gebring het.

Russell was eerste uit die oorblyfsels van sy Williams en het reguit na Bottas se motor koers gekies.

’n Klap teen sy valhelm en ’n paar gekruide woorde van die Brit is deur die Fin, steeds agter die gekrokte Mercedes se stuur, met ’n uitgestrekte middelvinger begroet.

“Ek het hom gevra of hy ons albei se dood wil veroorsaak,” het Russell aan Sky Sport verduidelik.

Die Brit was voor die ongeluk kort op die Fin se hakke en op soek na die negende posisie op die baan.

’n Kykweer van die voorval lewer nie klinkklare bewyse oor wie die skuldige party is nie, maar die jong Russell, wat as opvolger vir Bottas by Mercedes genoem word vir aanstaande seisoen, hou vol die ervare Fin moet pa staan vir die ongeluk.

Renbeamptes het reeds beslis dit was ’n “ren-voorval” en geen jaer gaan gestraf word nie.

Kyk, in droë toestande sou ek ’n plan kon maak, maar die baan was nat en toe hy uitswaai, is ek van die baan en daar tol die motor.
George Russell

“Ek was op volspoed en kort op Valtteri se hakke. Ek was in sy windskadu en my DRS (lugweerstand-verminderingstelsel) was geaktiveer. Net toe ek verby hom wou skiet, het hy baie effentjies na regs geswenk, ’n taktiese maneuver wat jaers in die verlede soms gebruik het,” aldus die Brit.

“Daar is ’n ongeskrewe ooreenkoms tussen jaers dat dit nie iets is wat jy doen nie. Dis bitter gevaarlik.

“Kyk, in droë toestande sou ek ’n plan kon maak, maar die baan was nat en toe hy uitswaai, is ek van die baan en daar tol die motor.

“Teen 320 km/h is daar nie veel wat jy in so ’n situasie kan doen nie. Ons het mekaar getref en ek het maar gehoop vir die beste.”

Wat die Brit meer omgekrap het, is dat sy span in die nadraai waardevolle punte misgeloop het.

“P9 (negende plek) is niks vir hom of Mercedes nie, maar vir ons is dit alles,” het Russell gesê. Die beleërde Williams kon die afgelope twee seisoene net twee punte insamel.

Feit van die saak is, ek hou nie daarvan as énige jaer my verbysteek nie.
Valtteri Bottas

Bottas het aan verslaggewers gesê hy kon nie hoor wat Russell vir hom daar op die baan sê nie, want hy het steeds sy valhelm aangehad. Hy ontken egter dat hy enigiets verkeerd gedoen het.

“Hy het gemik om my verby te steek, kon dit nie regkry nie en het my getref. En toe is als vir ons albei oor,” het die Mercedes-jaer gesê.

“Ek het gewis nie skielik uitgeswaai toe hy my wou verbysteek nie en dis duidelik te siene in die opname van sy kajuitkamera. As ek op die renbaan is, respekteer ek die reëls en my medejaers.”

Die Fin het bygevoeg hy sal teen enige jaer sy posisie op die baan beskerm.

Hy het skerp gereageer toe hy gevra is dat hy veral nie Russell verby sou laat kom nie, omdat dié jaer waarskynlik volgende seisoen sy uitdager gaan wees om sitplek in ’n Mercedes te kry.

“Ek is jammer, maar ek glo nie in samesweringsteorieë nie. En dis nogal ’n vernuftige een dié. Feit van die saak is, ek hou nie daarvan as énige jaer my verbysteek nie,” het die Fin bygevoeg. – Reuters

Meer oor:  Emilia Romagna Grand Prix  |  F1  |  Imola  |  Botsing  |  George Russell  |  Valtteri Bottas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.