Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Russell sê jammer aan Bottas

George Russell het om verskoning gevra vir sy aandeel in Sondag se botsing met Valtteri Bottas in die Emilia Romagna-Grand Prix in Imola en ook vir hoe hy daarna teenoor hom opgetree het.

Dié twee het volspoed gejaag toe hul motors in die 34ste rondte van die Formule Een-ren gebots het. Hulle is van die baan geslinger, met wrakstukke wat oor die baan besaai gelê het. Videomateriaal het nie klinkklare bewys gelewer van wie vir die ongeluk verantwoordelik was nie.

Valtteri Bottas (voor) was op hierdie oomblik nog salig onbewus van wat sy lot in Sondag se Emilia Romagna-Grand Prix in Italië sou wees. Foto: Getty Images

Russell, ’n junior renjaer vir Mercedes, was van mening dat Bottas gevaarlik bestuur het en het hom ’n f***king p***k genoem voordat hy hom op sy veiligheidshelm geklap het.

Hy het sedertdien herbesin en op sosiale media jammer gesê.

“Dit was nie my trotsste dag nie. Ek het geweet dat dit een van my beste geleenthede hierdie seisoen gaan wees om punte aan te teken. Wanneer punte soveel saak maak soos vir ons nou die geval is, neem jy soms risiko’s. Ek moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar,” sê hy.

“Noudat ek ’n geleentheid gehad het om na te dink oor die saak, het ek tot die besef gekom dat ek die situasie beter moes hanteer het. Emosies loop soms hoog in die hitte van die oomblik en ek kon myne nie in toom hou nie.

George Russell het om verskoning gevra vir sy aandeel in die botsing met Valtteri Bottas en vir sy gedrag onmiddellik daarna. Foto: Getty Images

“Ek vra om verskoning aan Valtteri, my span en enigiemand wat voel dat ek hulle deur my aksies in die steek gelaat het.

“Ek het harde lesse geleer en sal danksy die ervaring ’n beter renjaer en mens word.”

Wat dié voorval ’n skerper angel gee, is dat albei jaers die Mercedes-span verteenwoordig en meeding om van volgende jaar die wêreldkampioen, Lewis Hamilton, se spanmaat te wees.

Ross Brawn, besturende direkteur van F1, meen die voorval was tot ’n groot mate Bottas se skuld.

“Die baan in Imola is nou. As daar boonop weerskante daarvan nat gras is, raak dit baie moeilik. Ek is seker albei jaers sal die voorval bestudeer en daaruit leer, maar dit het gelyk asof Valtteri swenk en vir George met nêrens gelaat het om heen te gaan nie.”

Hamilton het intussen aan Russell ’n boodskap van ondersteuning oor sy verskoning gestuur.

“As jy nie foute maak nie sal jy nooit die les leer nie. Respek aan jou dat jy verantwoordelikheid geneem het,” het Hamilton in reaksie op Russell se plasing gesê. – TeamTalk

Meer oor:  F1  |  Imola  |  George Russell  |  Formule Een  |  Emilia Romagna-Grand Prix  |  Valtteri Bottas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.