Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
SA blasers groei ook by WB-toernooi

Suid-Afrika het drie skeidsregters wat in die Wêreldbeker-netbaltoernooi blaas. Al drie het hul debuut in dié skouspel gemaak.

Anso Kemp/Foto: Netball Scoop

Anso Kemp van die Strand sê sy is baie bly sy het vooraf hard in die gimnasium geoefen.

“Ek kan nie die belewenis in ’n paar woorde opsom nie,” sê sy. “Dit is die grootste voorreg wat ’n skeidsregter kan kry om in ’n Wêreldbeker-netbaltoernooi te blaas. Die wedstryde is taai, dit is nie speletjies nie. As jy nie fiks is nie, gaan jy dit nie hier maak nie. Dankie tog my voorbereiding was reg.

“My eerste wedstryd was die moeilikste een. Samoa teen Skotland was baie fisiek.

“ ’n Wedstryd dreineer jou ook geestelik. Laataand ontleed jy jou wedstryd en kry kommentaar van die assessors, wat jy dan in jou volgende wedstryd moet gaan toepas.

“Jou brein werk regtig oortyd.”

Kemp sê weghol-wedstryde – soos Nieu-Seeland se sege van 91-22 oor Sri Lanka – laat jou hardloop!

Kemp en haar landgenoot Elizna van den Berg het Donderdag die wedstryd tussen Barbados en Noord-Ierland hanteer, met Janet Edeling as die derde skeidsregter.

“Ongelooflik, wow, ’n voorreg, ’n belewenis. Ook om as toeskouer in die paviljoen te kan sit,” sê Kemp.

Janet Edeling, Elizna van den Berg en Anso Kemp is Suid-Afrika se drie internasionale skeidsregters wie se fluitjies die praatwerk doen in Liverpool. Foto: Verskaf

Van den Berg, van Durbanville, sê dit is ’n ongelooflike ervaring om in die toernooi te blaas.

“Ek leer elke dag. Ek dink ons drie SA blasers doen goed. Ek was bevoorreg om die wedstryd te blaas met die meeste doele tot dusver – Australië 99, Sri Lanka 24.

“Dit is baie belangrik om in so ’n wedstryd vir 60 minute jou konsentrasie te behou en fiksheid speel ’n groot rol.”

Van den Berg hanteer Saterdag om 17:15 die wedstryd tussen Noord-Ierland en Trinidad en Tobago.

Edeling, van Oos-Londen, sê dit is ’n ongelooflike geleentheid om te kan meng met skeidsregters van oor die wêreld heen.

“Die terugvoering wat jy van ’n assessor kry, laat jou groei in jou skeidsregterswerk. Dit is ’n ongelooflike voorreg.”

Sy sê haar moeilikste wedstryd tot dusver was Australië teen Zimbabwe. “Die Aussies het aanvanklik gesukkel met die Afrika-styl. Hulle is in die eerste twee kwarte onkant gevang en dit het die hantering ’n bietjie moeilik gemaak.

“Ek het al wedstryde van Nieu-Seeland en Engeland ook geblaas. Dit is ’n groot geleentheid om te sien en ervaar hoe jou skeidsregterswerk groei,” sê Edeling.

Sy hanteer Saterdag om 10:00 die wedstryd tussen Barbados en Skotland.

Meer oor:  Liverpool  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Proteas  |  Netbal  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.