Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dakar: SA fokus nou op motorfietsjaers

Suid-Afrika se hoop dat Giniel de Villiers die Dakar wen, is dalk daarmee heen, maar ’n string Suid-Afrikaanse motorfietsjaers is besig om hul merk te maak met die dat dié moordende ren Vrydag sy halfpadmerk bereik het.

Kenny Gilbert is tans in die 27ste plek. Foto: motorsportmedia.co.za

Daarbenewens kan De Villiers se spanmaat, Nasser Al-Attiyah, dalk sy Suid-Afrikaans geboude Hilux eerste oor die wenstreep stuur nadat hy sy voorsprong met nog 16 minute vergroot het.

Dik mis vroeg in die oggend het Vrydag se wegspring vir die tweede skof van die tweedaagse marathonsneltrajek (waar die deelnemers geen hulp van buite ontvang nie) vertraag, maar toe die groen vlag uiteindelik val, was die aksie nog opwindender as in die eerste vier sneltrajekte.

Die motorfietsbrigade het uit Moquegua weggespring en die motors uit Takna vir Vrydag se sneltrajek van 345 km tot in Arequipa, waar die byeenkoms se lang verwagte rusdag op hulle wag.

Die Peugeot-jaer Sebastien Loeb en sy navigator, Daniel Elena, het die afdeling vir motors gewen, met die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Nasser Al Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel, wat hul Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux ná ’n harde stryd oor die 450 km van Vrydag se sneltrajek tweede oor die wenstreep gestuur het. Hulle was 10:22 agter Loeb en het sodoende hul algehele posisie met 16 minute verbeter. Hulle is nou 24:42 voor hul naaste mededingers, Stéphane Peterhansel en David Castera in hul Mini.

Wat die motorfietsafdeling betref, het die Suider-Afrikaanse Dakar-debuutjaers Ross Branch (KTM) van Botswana en Kenny Gilbert (Husqvarna) van Pretoria hul skittervertoning voortgesit.

Wat die motorfietsafdeling betref, het die Suider-Afrikaanse Dakar-debuutjaers Ross Branch (KTM) van Botswana en Kenny Gilbert (Husqvarna) van Pretoria hul skittervertoning voortgesit.

Branch het ’n relatief skoon lopie deur die eerste helfte van die ren gehad buiten straftyd omdat hy sy motorfiets se ratkas moes vervang, maar dié woestynbewoner van die Botswana-Kalahari is heeltemal tuis in Peru se sandduine. Dié sogenaamde “Kalahari Ferrari” het hom weer onder die top-20 bevind en is uiteindelik 22ste oor die wenstreep. Hy is nou 22ste algeheel en derde onder die nuwelinge.

Gilbert, wat Dinsdag rondgejaag het op soek na navigasiepunte en Woensdag hard met die woestynsand kennis gemaak het, moes sy Husqvarna aanmekaarflans om die eindpunt te haal, maar het nogtans ’n hele paar plekke opgemaak. Hy is Branch se vernaamste teenstander op plaaslike bodem, maar erken hy ry nie 100% voluit nie aangesien hy wil seker maak hy voltooi sy eerste Dakar-ren. Hy was Vrydag 28ste oor die wenstreep en is nou 27ste algeheel (vyfde onder die nuwelinge).

Shameer Variawa ry dat die stof so staan. Foto: motorsportmedia.co.za

Nog ’n Suid-Afrikaner op twee wiele, Stuart Gregory (KTM), jaag in die klas vir jaers sonder enige steun en is steeds besig om plekke op te maak. Hy moet elke aand self sy motorfiets diens uit ’n trommel wat hy saamdra, en was Donderdagaand baie meer op sy gemak as die ander jaers wat die eerste keer sonder diensspanne moes klaarkom. Hy was Vrydag 70ste en is nou 74ste algeheel.

Vrydag se motorfietsren het strawwe mededinging opgedis en die Husqvarna-jaer van Chili, Pablo Quintanilla, was vroeg los voor. Hy is sowat halfpad deur die Argentynse Honda-jaer Kevin Benavides ingehaal met Adrien van Beveren (Yamaha) kort agter hom voordat Quintanilla ná die middagetehalte teruggeslaan en sy spanmaat Andrew Short verbygesteek het.

Die Dakar het egter kort voor die einde onder die motorfietsjaers gemaai. Quintanilla en Short het skielik tyd verloor en die Franse jaer Xavier de Soultrait (Yamaha), die Oostenrykse kampioen Matthias Walkner (KTM), die Spaanse buiteperd Lorenzo Santolino en die Britse jaer Sam Sunderland (KTM) het letterlik uit die bloute opgeduik, met Beveren, Short en Benavides kort op hul hakke.

Kort voor die einde het Sunderland tot voor gebeur en Quintanilla het onder die voorste 10 verdwyn.

Die Dakar het egter kort voor die einde onder die motorfietsjaers gemaai.

Sunderland is eerste oor die wenstreep met De Soultrait tweede en Santolino derde.

Die Amerikaner Ricky Brabec, wat elfde was, is steeds algeheel voor, met Sunderland nou tweede, gevolg deur Quintanilla, wat nou in die derde plek is.

* Die Suid-Afrikaanse Dakar-held Giniel de Villiers het ná sy rampspoedige terugslag drie dae gelede ver agtertoe weggespring en hy en hul derde spanmaat, die Hollander Bernhard ten Brinke, het teen die verwagting in onder die voorste tien oor die wenstreep gejaag. De Villiers was negende en Ten Brinke, wat 62 deelnemers ingehaal en verbygesteek het, was tiende.

De Villiers is nou 18de algeheel en Ten Brinke, wat Donderdag op die eerste deel van die marathonskof hope tyd verloor het, maar Vrydag in die tweede deel soos blits herstel het, is nou 13de algeheel.

Die Suid-Afrikaanse Dakar-debuutjaers Shameer Variawa en Zaheer Bodhanya het ook ’n paar noue ontkomings in hul SVR Red Lined Nissan Navara gehad, maar is tevrede dat hulle nog aan die gang is.

Die hele Dakar-renveld geniet Saterdag ’n rusdag waarna die tweede helfte van die 2019-Dakar Sondag van die Peruaanse kus na San Juan de Marcona begin. Die ren eindig Donderdag in Lima.

* Die berig is aangepas sedert hy aanvanklik gepubliseer is. 

Meer oor:  Dakar 2019  |  Giniel De Villiers  |  Dakar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.