
Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan hoop om in Mei weer in toetse te kan speel ter voorbereiding van die Olimpiese Spele.Foto: Gallo Images
Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan het ’n veldtog begin om finansiering te kry sodat hy met genoegsame voorbereiding na die Olimpiese Spele in Tokio kan gaan.
Sy doelwit in samewerking met die digitale platform Matchkit is om minstens R3,5 miljoen in te samel.
Die span doen ’n beroep op sakeondernemings, ondersteuners en die publiek om die veldtog met skenkings stukrag te gee.
“Dit is bloot om ons voorbereidingskoste, wat ons deelname aan toernooie vooraf insluit, te dek,” sê die span se afrigter, Garreth Ewing.
Dit is bloot om ons voorbereidingskoste, wat ons deelname aan toernooie vooraf insluit, te dek.
Garreth Ewing
Hy sê die geld kom mooi in sedert die aankondiging gemaak is, maar dit is nog in die beginstadium en dat die tyd besig is om uit te loop vir hulle met wat hulle alles wil doen.
Ewing het onthul hulle wil in Mei teen internasionale spanne begin speel.
Hulle beplan om aan die begin van daardie maand gasheer vir Namibië te wees en later ook vir Maleisië.
“Die besoek van Maleisië kan meebring dat ons ook soontoe kan toer.”

Garreth Ewing. Foto: Facebook
Ewing sê hulle oorweeg dit om in Julie voor die Spele ook teen Indië te speel.
Hy sê al dié planne sal egter nie kan realiseer as hulle nie nou die nodige geld kry nie.
Hulle het reeds ’n paar oefenkampe in streekverband gehou.
Ewing sê daar is ook iets agter die skerms aan die gang tussen Saskok en die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging, maar hulle moet so vinnig moontlik geholpe raak.
Dis geen geheim nie dat spelers oor die jare telkens self opgedok het omdat die span nie beduidende borge gehad het nie. Dis ook geen geheim nie dat nasionale afrigters ook nie ’n maandelikse salaris kry nie. Hulle het almal ook ander betrekkings om kop bo water te hou.
Belangstellendes kan hier hul steun aan die nasionale span wys.