Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nicole volg in ma se Spele-voetspore

Nicole Erasmus (née Walraven) van die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespan sal die vierde geslag van haar familie word om Olimpiese Spele toe te gaan.

Haar eie Olimpiese droom sedert kleintyd is bewaarheid toe sy Donderdag ingesluit is onder die 16 spelers wat Suid-Afrika in Tokio gaan verteenwoordig.

Nicole Erasmus (née Walraven) in aksie teen Chili in 2015 toe sy haar buiging vir Suid-Afrika gemaak het. Foto: Gallo Images

Sy volg in die voetspore van haar ma, Lynne (née Tasker), die laaste familielid by ’n Spele. Sy het Zimbabwe in 1980 in swem in Moskou verteenwoordig in dieselfde jaar waarin Zimbabwe se vrouehokkiespan toevallig goud gewen het.

Erasmus is nou ook die tweede lid van die familie wat in Tokio gaan deelneem. Haar ma se oom Tony Tasker was ’n roeier in 1964 se Spele in Tokio.

Frank Rushton (400 m-hekkies, 1936 Berlyn) was die eerste van die familie wat aan die Spele deelgeneem het.

Die 26-jarige Erasmus sê sy voel geseënd en trots om haar nou by hulle te kan aansluit.

Dié oud-eerling van Eunice in Bloemfontein het in 2015 in Kaapstad haar nasionale buiging teen Chili gemaak.

Die feit dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) in 2016 die land se hokkiespanne nie die jawoord gegee het om in Rio de Janeiro te gaan deelneem nie, het baie van die spelers ontmoedig en laat twyfel of hulle eendag Olimpiërs sal word.

“Ek het nog altyd hoop gehad (ná wat met die vorige Spele gebeur het), sê Erasmus, deesdae ’n Pretorianer.

Sy erken dat die gewag om te hoor of sy die groep gehaal het vandeesweek baie erg vir haar was.

Sy wou dit swart-op-wit sien voor sy dit geglo het en knyp haarself steeds om dit te glo.

“Ek was in ’n toestand van skok toe ek hoor ek is in die span. Ons afrigter (Rob van Ginkel) wou graag die nuus eerste aan ons oordra en hy het dit net voor Saskok se amptelike aankondiging gedoen.”

Ek was in ’n toestand van skok toe ek hoor ek is in die span.
Nicole Erasmus

Sy het haar man, Nardus Erasmus, ’n voormalige agtsteman en kaptein van die Shimlas, eerste met die nuus gebel.

“Hy was baie bly en het sommer geskree daar in sy kantoor by ’n bourekenaarsfirma.

“Hy het vanoggend na my gekyk en gesê: Goeie môre jou Olimpiër, ja jy droom nie, jy is ’n Olimpiër.”

Erasmus het in 2019, toe sy klubhokkie in Nieu-Seeland gespeel het, haar kuitbeen gekraak toe haar man – op ’n uitstappie buite Wellington – met ’n elektriese skopfiets in haar vasgery het.

Sy sê dit was nie te ernstig nie, maar sy was vir vyf weke in ’n gipsverband.

Sy kon nie vir die eindronde van die FIH Ope-reeks in Junie 2019 in Valencia, Spanje, oorweeg word nie en was ook nie in aksie in die toernooi om die Afrika-beker in Stellenbosch nie.

Ná hul terugkeer uit Nieu-Seeland was Erasmus se grootste doelwit om die Olimpiese span te haal.

Sy was vroeg in 2020, in die span se laaste internasionale reeks teen China in die Kaap, terug in die nasionale groep. Dít was net voor die koronavirus die wêreld op sy kop gekeer het.

Meer oor:  Hokkie  |  Olimpielse Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.