Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Kanovaarders beste ter wêreld

Wanneer dit by kanovaart-marathons kom, het Suid-Afrika nie sy gelyke in die wêreld nie.

Dit is die naweek nogmaals onderstreep toe Andy Birkett (twee keer) en Hank McGregor as wêreldkampioene in Prado Vila Verde in Portugal gekroon is.

Wêreldkampioene! Hank McGregor en sy Suid-Afrikaanse spanmaat Andy Birkett. Foto: Gameplan Media

Nadat Birkett Saterdag ’n lewenslange droom verwesenlik het deur die K1-titel by die Wêreldbyeenkoms te beklink, het hy en McGregor Sondag saamgespan om in die K2-afdeling ook water in die res se oë te spat.

McGregor het met daardie oorwinning die 11de wêreldtitel van sy roemryke loopbaan verower.

Birkett en McGregor het van meet af aan die pap dik aangemaak en in die laaste duisend meter van die wedvaart oor 30 km te veel skietgoed vir die Hongare Adrian Boros en László Solti gehad, wat met ’n tweede plek tevrede moes wees.

Volgens Birkett was spanwerk van kritieke belang in hul wedvaart aangesien hy nog ’n bietjie tam was nadat hy die vorige dag alles moes gee om die einste Boros, lid van vanjaar se wenspan in die Bergrivier-kanomarathon, in die K1-wedvaart tot oorgawe te dwing.

Dave Evans (agter) en Hamish Mackenzie het brons in Portugal verower. Foto: Gameplan Media

“Ek was ná die eerste twee rondes (van die wedvaart) redelik stukkend en het vir Hank gesê miskien moet ek oorboord spring en eers ’n rukkie gaan rus.

“Maar dis waar spanwerk in die prentjie kom en waar iemand soos Hank my die heeltyd bemoedig en raad gegee het.

“Dis gerusstellend om te weet jy het iemand soos hy in jou kamp, wanneer die ander spanne jou begin inhaal.”

Birkett-hulle se oorwinning het die kroon gespan op ’n uiters suksesvolle Wêreldbyeenkoms vir die Suid-Afrikaanse roeiers.

Die Kapenaar Jasper Mocké het in die K1-afdeling ’n bronsmedalje verower, terwyl Suid-Afrika in die junior afdelings ook op die podium geëindig het.

Nicholas Notten. Foto: Gameplan Media

Nicholas Notten het ’n derde plek in die K1-afdeling vir o.23-mans behaal, terwyl Hamish Mackenzie en David Evans ook derde was in die K2-kompetisie vir o.18-seuns.

Dit was so hittete of Hayley Nixon en Christie Mackenzie het in die vroue se K2-afdeling ook brons verower. Hulle het vierde geëindig, maar was net ’n raps meer as ’n sekonde stadiger as die Spaanse paar (Tania Alvarez en Tania Fernandez), wat derde geëindig het. – Sportredaksie

Meer oor:  Kano  |  Andy Birkett  |  Hank Mcgregor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.