Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
SA medaljeloos, maar wen harte met spel
Norma Plummer gee vir oulaas raad aan haar Proteas tydens Sondag se uitspeelwedstryd teen Engeland.Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Daar is vooraf gedroom en gehoop dié Suid-Afrikaanse netbalspan kon met die goue medalje – of enige medalje – huis toe kom.

Ná ’n puik Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland, keer hy egter met leë hande, maar volop goeie herinneringe, huiswaarts.

Die Proteas se vierde plek is steeds ’n bitter goeie prestasie, teenoor soveel keer in die verlede wat hulle met die vyfde plek tevrede moes wees.

Bongiwe Msomi (kaptein) se SA span het Sondag in die uitspeelstryd om die derde plek voor 8 000 toeskouers met 16 doele (42-58) die knie gebuig teen ’n Engelse span, wat in alle afdelings sy meerdere was.

Die Proteas het feitlik nét verdedig, met hul algemene aanvallende spel wat gehaper het.

Die 31-jarige Bongiwe Msomi het die hele toernooi vir Suid-Afrika op aanvallende vleuel uitgeblink en met haar leierskap beïndruk.Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Die Engelse veteraan Geva Mentor het gewys waarom sy as die wêreld se beste hoofverdediger beskou word.

Sy en haar vennoot, Eboni Usoro-Brown, het die SA doele, Lenize Potgieter (doel) en Maryka Holtzhausen (hulpdoel), onder geweldige druk geplaas.

Potgieter se doelgemiddelde was 88%, met Holtzhausen wat nie genoeg ondersteuning kon bied nie. Sy was bitter onbestendig en kon net met 12 van haar 20 pogings slaag.

Aan die ander kant van die baan het Phumza Maweni (verdediger) en Karla Pretorius (hulpdoelverdediger) hard probeer, maar die Engelse doelskieters, Helen Housby (doel) en Joanne Harten (hulpdoel), het die doele laat inrol.

Housby se doelgemiddelde was ’n ongelooflike 100%, met Harten s’n 85%.

Die kwarttellings was 14-12, 29-22 en 46-32.

Msomi sê hulle is teleurgesteld ná hul goeie halfeind-vertoning teen Australië, wat hulle naelskraap met 53-55 verloor het. “Krediet aan Engeland, hy het hard geslaan.

Nog ene vir Engeland. Helen Housby (doel) het Sondag ’n ongelooflike vertoning teen Suid-Afrika gelewer.Foto: Reuters

“Ons is dankbaar vir die vierde plek nadat ons so lank vyfde klaargemaak het.

“Alle krediet aan Norma (SA afrigter). Ons het nou gewys ons kan die bestes aanvat.

“Sommige van die spelers sal daar wees en ander nie, maar van hier af moet ons werk vir 2023,” sê Msomi.

Plummer, die SA afrigter, en haar assistent, Nicole Cusack, groet nou die Suid-Afrikaners.

Dit was ook die afrigter Tracey Neville se laaste wedstryd in beheer van die Engelse. Foto: Reuters

’n Suid-Afrikaanse afrigter sal waarskynlik nou die leisels kry om ’n span te bou vir 2022 se Statebondspele in Birmingham, Engeland, en 2023 se volgende WB-toernooi in ons eie Moederstad.

* Suid-Afrika se uitslae: klop Trinidad en Tobago 76-45; klop Fidji 90-35; klop Jamaika 55-52; klop Skotland 66-38; klop Uganda 67-40; verloor Engeland 47-58; verloor Australië 53-55; verloor Engeland 42-58.

* ’n Enkele doel het Sondagaand die wêreldkampioen en die naaswenner geskei.

Nieu-Seeland het ’n eindstryd-riller teen Australië met 52-51 gewen, vir sy eerste Wêreldbeker-titel sedert 2003.

Die kwarttellings was 10-10, 28-25 vir Nieu-Seeland en 41-37 vir Nieu-Seeland.

* Daar was vir Suid-Afrika se onderkaptein, Karla Pretorius, 'n lekker troosprys gisteraand. Sy is as die Speler van die Toernooi aangewys.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Eindstryd  |  Liverpool  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Proteas  |  Nieu-Seeland  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.