Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
SA motors steel kollig in Dakar-tydren

Die kollig het Maandag in die agtste sneltrajek van die 2020-Dakar-veldtydren in Saoedi-Arabië op Suid-Afrika begin skyn, maar eerder sy motors as sy deelnemers.

Fernando Alonso ploeg deur die sand tydens die agtste skof van die Dakar-veldtydren.Foto: Motorsportmedia

Hoewel die Stellenbosse Dakar-koning, Giniel de Villiers, puik gevaar en sy pad terug na die voorpunt van die ren begin oopjaag het, het die Suid-Afrikaanse geboude Century-buisraammotor in die hande van die Franse jaer Mathieu Serradori skoonskip onder die Mini- en Toyota Hilux-span gemaak.

Asof dit nie genoeg goeie nuus was nie, het die veelvuldige F1- en Le Mans-kampioen Fernando Alonso sy SA geboude Toyota Hilux in die tweede plek vir die dag oor die wenstreep gestuur – twee minute voor Orlando Terranova van Argentinië in sy Mini, met De Villiers en sy Spaanse navigator, Alex Haro, in hul Toyota Gazoo Racing – Toyota Hilux skaars tien sekondes agter die Mini.

Serradori se Corvette-aangedrewe Century-buisraammotor is geheel en al in Johannesburg deur die voormalige Dakar- en SA-veldtydrenkampioen Mark Corbett ontwerp, gebou en ontwikkel.

Maandag se sneltrajek, wat oor ’n sirkelroete van 477 km met nog 239 km se ooppad-gedeeltes tussen die tentkamp en die begin- en eindpunt beslis is, is in die afwesigheid van motorfietsspore beslis nadat die dag se ren vir die motorfiets- en vierwielmotorfietsjaers ter nagedagtenis aan die motorfietsjaer Paulo Goncalves, wat Sondag in ’n erge valslag dood is, afgelas is.

Wat die motors betref, het die algehele voorloper, Carlos Sainz, se voorsprong in sy tweewielaangedrewe Mini-buisraammotor aansienlik gekrimp nadat hy vroeg hope tyd verloor het, maar later ’n paar waardevolle minute teruggewen het. Hy kon Maandag net die 15de vinnigste tyd aanteken, en is nou net ses minute 40 sekondes voor Nasser Al Attiyah, wat Maandag ook maar gesukkel het en 11de was.

De Villiers se vierde plek, gevolg deur Yazeed Al-Rajhi (ook in ’n Toyota Hilux), het gewys die vierwielaangedrewe voertuie het nie so swak gevaar as wat aanvanklik verwag is nie. Die Mini-jaer Jakub Przygonski (die vierwielaangedrewe turbodiesel-weergawe) was sesde, gevolg deur die Toyota Hilux’e van Bernhard ten Brinke en Erik van Loon (Overdrive-span).

Die Franse jaer Mathieu Serradori op pad na ’n skofsege in die Suid-Afrikaans geboude Century-buisraammotor. Foto: AP

Serradori het vroeg van sy 14de wegspringposisie af by die plaaslike held Al-Rajhi verbygeskiet terwyl Sainz, Al Attiyah en Stéphane Peterhansel (Mini) ver agter pad gesoek het.

Alonso het ongeag sy veel swakker algehele posisie gewys hy kan by die voorste jaers kers vashou deur by almal verby te beur en as naaswenner tot agter Serradori te vorder.

Peterhansel, wat uiteindelik negende was, is steeds derde algeheel agter Al Attiyah, terwyl De Villiers sy sesde plek tot aansienlik minder as die uur plus wat hy Sondag agter was, verbeter het. Ten Brinke, wat voor Maandag se sneltrajek algeheel sewende was, is nou agtste algeheel.

Nog Suid-Afrikaanse inskrywings wat steeds in die kollig is, is Hennie de Klerk en Johann Smalberger in hul SA geboude Nissan Navara, en het nou tot 31ste algeheel opgeskuif – dieselfde as hul posisie in Maandag se sneltrajek.

Die Chileense jaer Fernando Lopez Contardo is steeds voor in die afdeling vir motorfietsmotors, waar die Zimbabwiese SA tydrenkampioen, Conrad Rautenbach, wat Maandag negende was, steeds algeheel vierde is.

Die Suid-Afrikaanse navigator Mike Horn, wat saam met Cyril Despres gejaag het, was Maandag ’n toeskouer nadat Despres sy motor Sondag onttrek het.

Die Russiese jaers Andrey Karginov, Dimitri Sotnikov en Anton Shibalov beklee steeds die eerste drie plekke in die vragmotorafdeling – al drie in Kamaz-vragmotors.

* Die Dakar-ren skuif Dinsdag 400 km noordoos in die rigting van Harad deur die sogenaamde “leë kwart” van Saoedi-Arabië, met gelyke hoeveelhede sand, grond en klip op die roete van altesaam 886 km, waarvan minder as die helfte, net 410 km, die mededingende roete teen die stophorlosie is.

Meer oor:  Mike Horn  |  Giniel De Villiers  |  Saoedi-Arabië  |  Dakar  |  Suid-Afrika  |  Toyota
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.