Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
SA netbal staan stil, maar 5 Proteas op baan

Terwyl Suid-Afrikaanse netballui se frustrasievlakke oplaai, begin die Australiese Superliga-reeks Saterdag.

Vyf Proteas sal vanjaar Doer Onder uitdraf.

Ine-Marí Venter gaan ’n sleutelspeler vir die Firebirds van Queensland wees. Die Australiese Superreeks, wat in Mei moes begin, skop Saterdag af. Foto: Gallo Images

Suid-Afrikaanse spanne en afrigters het gehoop om nou al in klein groepies te kon oefen, maar dit blyk nou dat dít eers op vlak 2 van die inperking sal kan gebeur.

Die Nasionale Liga sal waarskynlik eers in Oktober kan begin, sou dit kan voortgaan.

Intussen het Nieu-Seeland se Premierliga reeds in Junie begin met nuwighede soos ’n verkorte kwart van 12 minute.

Australië se Superliga sal ’n goeie rigtingwyser vir Suid-Afrika wees.

Die reeks se organiseerders moes vandeesweek reeds hul wedstrydprogram vir die eerste ronde verander nadat Queensland se regering nuwe grensbeperkings ingestel het.

Alle wedstryde sal vir eers in Brisbane beslis word, met die spanne van Nieu-Suid-Wallis wat hul tuisstryde moes prysgee.

Daar is groot afwagting vir die Queensland-derby tussen die Firebirds en Sunshine Coast Lightning, wat die seisoen inlui. Daarna sal Adelaide se Thunderbirds teen die West Coast Fever van Perth te staan kom. Nog twee wedstryde sal Sondag beslis word.

In die eerste wedstryd is dit dus die Proteas Karla Pretorius en Phumza Maweni se Lightning teen hul spanmaat Ine-Marí Venter se Firebirds.

Venter (25) het van die Melbourne Vixens na die Firebirds geskuif. Die keurders het onwetend vir hulself ’n potensiële wedstrydwenner gewerf, want die Superliga-organiseerders het ter elfder ure ’n nuwe reël vir superdoele ingestel.

’n Doel of hulpdoel sal in die laaste vyf minute van ’n kwart vanaf ’n spesiale 1,9 m-sone in die sirkel met ’n lang doel twee punte kan verdien.

Dié superdoel word gewoonlik in Fast5-netbal ingespan.

Karla Pretorius is die onderkaptein van die Sunshine Coast Lightning, wat verlede jaar die naaswenner was. Dié span het ’n nuwe afrigter, Kylee Byrne. Foto: Getty Images

Venter sê dié nuwe reël het hulle onverhoeds betrap. Die organiseerders het nie met spanne daaroor beraadslaag nie en dit was ’n verrassing vir almal.

“As doelskieter oefen jy maar gewoonlik jou lang pogings. Nou tel dit twee punte, so meer is op die spel. Ons het in oefeninge baie rondom dit beplan en ingeoefen.

“Dit kan jou uit groot moeilikheid help of teen jou tel. Dit kan ’n wedstryd of selfs ’n kwart op sy kop keer,” sê Venter.

Dié Pretorianer is bekend as ’n langafstand-spesialis.

Venter sê ná die “langste voorseisoen” tot dusver, is sy opgewonde om eindelik te speel.

“Ek is al vanaf Maandagoggend baie opgewonde en kon nie glo die seisoen is om die draai nie.”

Venter sê die spanne het nie soos gewoonlik oefenwedstryde teen hul teenstanders gespeel nie en gaan die seisoen “toe oë” binne.

Die Superliga-organiseerders het reëls oor bykomende tyd, asook die bonuspuntstelsel vir vanjaar se seisoen laat vaar. Hulle beoog wel om ’n volle program van 60 wedstryde te hê, met kragmetings wat ook op weeksdae beslis sal word.

• Die Protea-doel Lenize Potgieter het haar in Adelaide by die Thunderbirds aangesluit nadat sy verlede jaar vir die Firebirds gespeel het. Sy moet die leemte help vul wat die hulpdoel Maria Folau se uittrede gelaat het.

Potgieter se Protea-spanmaat Shadine van der Merwe is ook by die Birds.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.