Gregg Clark, voormalige speler en breier van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan, sal Indië vanjaar by die Olimpiese Spele in Tokio bystaan.
Die 50-jarige Clark is as Indië se nuwe ontleder aangestel.

Gregg Clark gaan Indië probeer help om goud in Tokio te verower. Foto: Gallo Images
Clark was ná sy speeldae langer as ses jaar Suid-Afrika se hoofafrigter en was ook van 2017 tot verlede jaar nog die hulpafrigter van Kanada se mans.
Volgens hockeyindia.org sal hy hom reeds vandeesmaand by die nasionale span se oefenkamp aansluit.
Clark is geen onbekende aan die land en die hokkie daar nie.
Hy was onder meer breier van die Ranchi Rhinos, wat die eerste Indiese hokkieliga gewen het.
Hy het in 2013 nie weer aansoek vir die SA pos gedoen nie en was van daardie jaar tot 2014 die breier van Indië se o.21-span.
Indië se jonges het onder hom die Sultan van Johor-trofee, ’n jaarlikse o.21-toernooi in Maleisië, gewen en hy was ook hul breier vir die o.21-Wêreldbeker-toernooi in 2013 in Delhi.
“Ek is vertroud met die doen en late van Indië omdat ek voorheen betrokke by Hokkie Indië was, het Clark volgens hockeyindia.org gesê.
Sy aanstelling word as ’n slim skuif beskou. Sy kennis van die spelers wat destyds sy juniors was, sal in Indië se guns wees.
“Die meeste van die spelers wat ek as juniors afgerig het, het nou wasdom as seniors bereik.”
Clark is tot en met die einde van die Spele van 23 Julie tot 8 Augustus as die span se ontleder aangestel.
Dit sal sy vyfde Spele wees.
Clark het in langer as ’n dekade ’n ongeëwenaarde 250 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel en was in 1996 in Atlanta en 2004 in Athene lid van die Proteas se span by die Spele. Hy was van 2007 tot 2013 die SA mans se breier en het as afrigter die Spele in 2008 in Beijing sowel as die een Londen in 2012 meegemaak.
Clark was by 2010 se Wêreldbeker-toernooi in Delhi die land se hoofbreier. Suid-Afrika het toe maar vir ’n tweede keer in sy geskiedenis tiende in die skouspel geëindig.
Suid-Afrika se mans het sedert sy vertrek in 2013 reeds vyf afrigters, Charlie Pereira, Fabian Gregory, Mark Hopkins, Sheldon Rostron en Garreth Ewing gehad.