Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
SA se Impey nou in Froome se kraal

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Daryl Impey sluit hom aan die einde van die seisoen by Chris Froome se nuwe span, Israel Start-Up Nation (ISN), aan.

Daryl Impey toe hy in 2019 die negende skof van die Tour de France gewen het. Foto: Getty Images

Daar was onlangs gerugte in die media dat Froome, ’n viermalige wenner van die Tour de France, na die 35-jarige Impey se dienste vry.

Froome (35), ’n Brit wat in Kenia gebore en in Johannesburg skoolgegaan het, verlaat Ineos ná die seisoen om hom by ISN aan te sluit en beskou die Suid-Afrikaner as ’n belangrike skakel om sukses in volgende jaar se Tour de France te behaal.

Dié twee ryers kom al ’n lang pad saam – hulle was in 2008 en 2009 spanmaats by Barloworld – en is dus nie vreemdelinge vir mekaar nie. Impey, wat sedert 2012 vir Mitchelton-Scott (destyds bekend as GreenEDGE) ry, het ’n kontrak van twee jaar onderteken en sal ISN se spankaptein wees.

“Ek het besluit dis tyd vir ’n nuwe begin. Ek voel dat ek die gemaksone waarin ek by Mitchelton-Scott is, moet verlaat. Dit was beslis nie ’n maklike besluit nie en ek het dit goed deurdink.

"Maar dit is opwindend om met ’n nuwe span met nuwe energie en nuwe ambisies te werk,” sê Impey volgens ’n verklaring van ISN.

Dit is nie elke dag dat jy die geleentheid kry om saam met een van die legendes in die sport te ry nie.
Daryl Impey

“Dit is nie elke dag dat jy die geleentheid kry om saam met een van die legendes in die sport te ry nie, so toe Chris my bel en gesê het dat hy my vertrou en as ’n spanmaat wil hê, het ek dit waardeer en geweet wat dit beteken.

Chris Froome in 2016 se Tour de France. Foto: Getty Images

“Ek ken hom (Froome) reeds ’n lang tyd en ons loopbane het omtrent ’n sirkel voltooi sedert ons saam by Barloworld was en nou by ISN gaan wees. Ek weet hy kan weer die Tour de France wen en dit sal wonderlik wees om nie net deel van die span te wees nie, maar ook ’n belangrike rol te speel.”

Impey is ’n veelsydige ryer wat in 2012 die eerste keer vir die Tour aangetree het. Die volgende jaar, in 2013, het hy die gesogte geel trui vir twee skofte gedra.

Sy grootste oomblik tot op hede was toe hy in 2019 die negende skof gewen het. Dié Johannesburger van geboorte het ook die Tour Down Under in Australië in 2018 en 2019 gewen, die nasionale tydtoetstitel reeds nege keer en was ook die Suid-Afrikaanse padkampioen in 2018 en 2019.

Sou Froome daarin slaag om die Tour ’n vyfde keer te wen, sal hy hom by uitgelese geselskap aansluit. Slegs Jacques Anquetil, Eddy Merckx, Bernard Hinault en Miguel Indurain kon dit al vermag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.